Dagstuk | Vrydag 5 April 2024

Dagstuk | Saterdag 6 April 2024
Dagstuk | Donderdag 4 April 2024

Vandag se tema: Nuwe ervaringe en geleenthede wat ‘n verskil maak.

Jesaja 43:19. Kyk, Ek gaan iets nuut doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom. Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

Albert Einstein het gesê: “You cannot solve a problem from the same level of consciousness that created it”. Dit sluit mooi aan by gister se dagstukkie wat van ons vra om God toe te laat ons ons denke te verander, maar moedig ons ook vandag aan om ons vir nuwe ervaringe oop te stel. Ons kan nie verander terwyl ons tergelyke tyd op dieselfde plek bly nie. Ons het nodig om blootgestel te word aan nuwe ervaringe in ons hede en ‘n ander vlak van dink en doen. Dit is waarna die teksgedeelte ons uitnooi. Dink aan die beeld wat die teksgedeelte oproep? Dit is bykans onmoontlik om ‘n pad tussen die sandduine in ‘n woestyn te maak en vir ‘n rivier om sommer so in ‘n droë wêreld te ontspring. Tog, is dit iets wat die Here kan doen en ons uitnooi om in ons hede te beleef. Het jy dalk iewers in die lewe op ‘n vlak vasgehaak waar jou probleme aan jou vasklou? Voor watter ervaring, “wat op die punt staan om te gebeur”, bring die Here jou uit? Mag jy die moed hê om jou vandag daarvoor oop te stel en te beleef watter groot verskil dit in jou lewe kan bring.

Gebed

Here, ek slaag dikwels nie om fyn na U te luister nie. Ook nie om U stem en leiding in dié van mense te herken nie. Ek voel vasgevang en leef in dieselfde ritme en roetines wat my probleme veroorsaak. Wees vandag by my om my die pad in die woestyn te wys en my by die water uit te bring wat onverwags in die droogte van die plek wat ek myself bevind ontspring. Maak my gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe lewensmoontlikhede.