Dagstuk | Vrydag 6 Junie 2025

Dagstuk | Donderdag 5 Junie 2025
Dagstuk | Saterdag 7 Junie 2025

Galasiërs 5:22. Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.

Refleksie

’n Boom word geken aan sy vrug. Hierdie is ’n teksgedeelte wat meeste van ons baie goed ken. Wanneer mense hieroor praat, hoor jy gereeld dat hulle praat van die ‘vrugte’ van die Gees, asof elke eienskap ’n ander vrug is. Onbewustelik skep dit die gedagte dat elkeen ’n ander vrug van die Gees dra. Sommige mense is geduldig, ander het vrede, ander het selfbeheersing. Ons dink ook dat ons kan kies watter vrugte deel is van ons lewe en wat nie.

Maar as jy weer lees, dan sien jy Paulus skryf oor die ‘vrug’, enkelvoud, van die Gees en nie die vrugte van die Gees nie. Ons kan nie kieskeurig wees oor hierdie eienskappe nie. Wanneer die Gees in ons lewens teenwoordig is, behoort al hierdie eienskappe in ons lewens sigbaar te wees.

Watter eienskappe kom dalk ’n bietjie meer natuurlik vir jou? Met watter eienskappe sukkel jy? Vra die Gees om jou te help om die volle vrug van die Gees in jou lewe te ontwikkel.

Gebed

Here, maak ons harte vrugbaar vir die werk van die Gees in ons lewens, sodat ons ook vrug kan dra. Mag ons vrug vreugde bring vir almal rondom ons en dit duidelik maak dat die Gees in ons lewens leef.