Dagstuk | Vrydag 6 Maart 2026

Dagstuk | Donderdag 5 Maart 2026
Dagstuk | Saterdag 7 Maart 2026

https://youtu.be/M7IqzPfyKZ0

Matteus 5:16

“Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Franciscus van Assisi het ’n bekende aanhaling wat sê: Al die donkerte in die wêreld is nie genoeg om die lig van ’n enkele kers uit te doof nie.

Wanneer lig die meeste nodig is, is dit in die nag, in die donkerte. Ons steek nie kerse aan of sit ligte aan wanneer die son skyn nie, maar juis wanneer dit donker word. Daar is ’n klomp dinge wat ons nie in die donkerte kan doen nie en waarvoor ons lig nodig het. Hierdie vers en die aanhaling van Franciscus moedig ons aan om nie oorweldig te voel deur die donkerte in die wêreld nie, maar om dit juis as ’n geleentheid te sien om God se lig te laat skyn.

Met die eerste oogopslag kan ’n mens dink dat hierdie versie ons aanmoedig om goeie voorbeelde te wees, sodat ander kan raaksien watter goeie mense ons is en sien dat ons goeie Christene is. As jy ’n bietjie dieper kyk en nadink oor die aard van lig, lyk die prentjie anders. Lig help ander mense om te sien. Om lig te wees, beteken nie dat ander jóú moet raaksien nie, maar dat jy ander help om beter te sien en hulle lewenspad verhelder. Om lig te wees, beteken om weg van jouself te wys, sodat ander beter kan sien.

Gebed

Here, help my vandag om ’n lig te wees wat ander help om beter te sien. Mag my lewe al hoe minder na myself wys en al hoe meer na U. Laat U lig deur my skyn.

Amen