Dagstuk | Vrydag 8 Augustus 2025

Dagstuk | Donderdag 7 Augustus 2025

Ons is tans in koninkrykstyd en tydens ons eredienste besig met ’n reeks: So ook op die aarde. Hierdie week reis ons saam met die verhaal van Rut, wat ons help om te sien hoe God se genade sigbaar word in ons weerloosheid.

Rut 3:3-4

Was jou, smeer geurige olie aan en trek jou beste klere aan. Dan gaan jy af dorsvloer toe. Maar moenie dat die man weet jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4En as hy gaan slaap, maak seker van die plek waar hy lê. Gaan dan nader, maak sy voete oop en gaan lê daar. Hy sal dan self vir jou sê wat jy moet doen.”

Refleksie

Hierdie toneel in die verhaal van Rut is dalk die grootste oomblik van spanning in die verhaal. Naomi se raad aan Rut is potensieel skandelik. Dit vra van Rut om haarself nog in die mees weerlose posisie te sit waarin sy nog was. Dink jouself in dat jy in die middel van die nag wakker word en daar lê ’n vreemde persoon onder die kombers saam met jou? Hoe sy jy reageer? Waarvan sou jy vir Rut verdink as jy Boas was? Hoe sou jy voel as jy Rut was? Sou jy wonder of Boas jou uit sy kamer sou gooi en in die publiek beskuldig dat jy hom probeer verlei het, of jou uit selfverdediging oor die kop gaan slaan. Daar is baie wat verkeerd kon loop.

Maar Rut is bereid om haarself in daardie weerlose posisie te plaas. Dalk omdat sy Boas se integriteit vertrou, of haar vertroue in Naomi se raad plaas. Of selfs omdat sy besef dat vir hulle omstandighede om te verander, ’n waagstuk nodig is.

Hierdie gedeelte daag ons uit om te vra: Wanneer laas het ek ‘n stap van geloof geneem wat my kwesbaar en weerloos gelaat het? Geloof vereis soms dat ons ons gemak en veiligheid verlaat. Dit is juis in ons weerloosheid wat God se koninkryk en genade die helderste sigbaar word.

Mag ons, soos Rut, dapper genoeg wees om weerloos te wees.

Gebed

Here, ons raak so maklik gemaklik en probeer ons lewens so veilig as moontlik maak. Maar soms, vir die koninkryk om sigbaar te word, moet ons dit waag om weerloos te wees. Mag U ons help om weerloos te wees en mag U koninkryk in ons weerloosheid sigbaar word.

 

Amen.