Vandag is Vrydag 9 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons Epifanie noem. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoe mense bewus raak van God se teenwoordigheid en hoe hulle daarop reageer. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm.
Vandag reflekteer ons verder oor hierdie tydperk van Epifanie met die tema:
Nuwe begin
Bybelteks: Klaagliedere 3:22–23
“Dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie. Hulle is elke môre nuut; u trou is groot.”
Wysheid: Leer voortdurend
Streef daarna om voortdurend te leer, te groei en te vernuwe. Lees boeke, neem kursusse en wees oop vir nuwe idees. Mag die kreatiewe God van die heelal in 2026 kreatiwiteit in jou wakker maak en Homself op nuwe maniere aan jou openbaar. ’n Lewe van voortdurende leer kan ’n lewe van betekenis en vervulling bevorder.
Die lewe bestaan uit ’n reeks nuwe beginne. Elke dag is vol nuwe geleenthede en moontlikhede. God se genade is elke dag nuut. Begin dus iets nuuts hierdie jaar — dit is deel van die avontuur van nuwe beginne. Om voortdurend te vernuwe, is ’n uitnodiging om nader aan God en aan mekaar te beweeg.
Mag God Homself in hierdie Epifanietyd opnuut aan jou openbaar — vol beloftes van nuutmaak, mooimaak, vrymaak en heelmaak. Aan sy liefde is daar geen einde nie. Dit is elke môre nuut, en sy trou is groot.
Gebed:
Here, ek erken u goedertierenheid en barmhartigheid. Dankie vir ’n nuwe begin. Mag my hart elke dag deur u genade vernuwe word, en mag ek telkens iets nuuts leer van wie U is. Amen.