Vandag is Woensdag 1 April en welkom by hierdie week se oordenking, waar ons tydens hierdie Heilige Week op reis is na die kruis en opstanding van Jesus, ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.
Kruiswoord 3: “Daar is u seun… Daar is jou moeder…”
Johannes 19:23–27
Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat, van bo af in een stuk geweef. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
By die kruis van Jesus het ook sy moeder, sy moeder se suster, Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.
Wat sê die bogenoemde gedeelte van God? Wat hoor jy oor jouself?
Kan jy dink aan mense of groepe wat byna soos familie vir jou is? Wat waardeer jy die meeste van hierdie “familie”?
Ken jy dalk iemand wat eensaam is en wat jy deel van jou groep of “familie” kan maak?
Gebed: Here, dankie dat ons by U kan tuiskom, dat ons aan U kan behoort, dat U ons versorg en dat ons deel van U familie kan wees. Amen.