In hierdie week kyk ons na die klein dingetjies rondom ons. Spreuke 30:24 nooi ons om te kyk na die wêreld rondom ons en die dinge raak te sien wat klein is, maar wat buitengewone wysheid het.
Treksprinkane het geen koning nie, en tog trek hulle almal in groepe uit.
Een sprinkaan maak nie ’n groot verskil nie. Maar wanneer hulle in hulle massas opdaag, bring dit groot verandering! Hulle wysheid lê daarin dat hulle nie alleen optree nie, maar in gemeenskap werk.
Dikwels kan ons wonder of enige iets wat ek doen, werklik ’n verskil kan maak. Watter verskil gaan die een strooitjie wat ek kies om nie te vat nie, maak? Maar wanneer miljoene of miljarde individue almal die keuse maak om op klein maniere beter se sorg vir die aarde, dan maak dit ’n massiewe verskil! Die teendeel is ook waar. Ons kan dink: watter skade gaan een polystyrene koppie maak? Maar 9 biljoen individue se polystyrene koppies is ’n massiewe probleem!
Anna Lappé het gesê: “Every time you spend money, you’re casting a vote for the kind of world you want.” Elke individuele keuse of aksie, help om die rigting van die wêreld te bepaal. Jou aksies maak saak! Word op klein maniere deel van die groter beweging, sonder dat enige koning of mag dit van jou verwag, deur te besef wat jy as individu doen, maak saak.
Die tweede aspek van die sprinkaan se wysheid, is dat die sprinkaan nie wag vir die opdrag van ’n koning nie – hulle is net deel van ’n beweging. Ons wag dikwels vir iemand om vir ons te sê wat om te doen. Moenie wag op iemand om vir jou te sê nie, begin net. Dalk lei jou klein aksies na ’n groter beweging van mense wat almal saam ’n verskil maak, of dalk sien jy ’n beweging rondom jou raak waarvan jy kan deel word?
Ons word herinner dat ons ook as gemeenskap sterker is as alleen. Ons het mekaar nodig. Ons klein bydraes kan saam groot impak maak wanneer ons saam optree.
Dink vandag: Hoe kan jy deel wees van ’n gemeenskaplike poging om die aarde te dien? Dit kan wees om aan te sluit by ’n plaaslike inisiatief, skoonmaakaksie, of selfs net saam met ander jou gewoontes te verander ter wille van die aarde.
Here God, dankie dat U ons nie alleen gemaak het nie. Help ons om saam te werk soos die sprinkane, nie om die aarde te vernietig nie, maar om haar te versorg en te beskerm, soos U van ons vra. Amen.