Dagstuk | Woensdag 12 Maart 2025

Dagstuk | Dinsdag 11 Maart 2025
Dagstuk | Donderdag 13 Maart 2024

TEKS: DEUTERONOMIUM 32:10

Hy het sy volk in die woestyn gevind,

in ‘n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu.

Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel

en versorg soos die appel van sy oog.

TEMA:Gestroop van my eie idees

BOODSKAP

Dink aan die Israeliete se veertig jaar in die woestyn. Eers het hulle gedink God vloek hulle, dat God hulle na die woestyn toe gelei het om hulle dood te maak. Hulle wou met alle mag en mening terug na Egipte toe, terug na hulle slawerny toe. Toe leer God hulle om anders te kyk.

Een ding wat die woestyn ervarings ook doen is dat dit ons stroop van bepaalde idees oor die lewe. Die woestyntyd het die vermoë om ons van sommige illusies te stroop. In die gestrooptheid van die woestyn, waar die gewone afleidings van die lewe verdwyn, word ek met die naakte waarheid van my lewe gekonfronteer. Vrae soos: Waar bevind ek my in die lewe? Waar staan my verhouding met God?” Kom telkemale by ons op.

In sulke tye kom die Gees tot ons redding, nie om ons illusies te versterk of om ons te laat insluimer nie, maar om ons wakker te maak, om ons te neem na waar ons reeds is maar nie gereed is om te aanvaar nie.

In die skaarste van die woestyn vul en versterk die Gees ons om te sê: “al is dit nie wat ek gekies het nie, is ek nou hier, kies ek om hier te bly tot die Here my uitlei. Ek kies ek om biddend op God te bly wag.”

Dit laat my dink aan ʼn gedig van die Oostenrykse digter Erich Fried, Es ist was es ist:

Dit is onsin, sê die Rede

Dit is wat dit is, sê die Liefde

Dit is ʼn ramp, sê Logika

Dit is niks anders as pyn nie, sê Vrees

Dit is uitsigloos, sê Insig

Dit is wat dit is, sê die Liefde

Dit is belaglik, sê Trots

Dit is ligsinnig, sê Verstandigheid

Dit is onmoontlik, sê Ervaring

Dit is wat dit is, sê die Liefde

Gevul met die Gees van Christus kan ons met ʼn ander ingesteldheid na ons woestyn-ervarings kyk. Vra jouself die vraag af: Van watter bepaalde idees wat onwaar is wil die Here my in hierdie tyd stroop? Deur die oë van liefde, kan ons die moed kry om die waarheid te konfronteer en te sê: dít is wat dit is. Maar Sy genade is vir my genoeg

GEBED

Here, wat is dit wat ek moet leer, moet sien, moet afsien moet in groei in hierdie woestyn ervaring? AMEN