Dagstuk | Woensdag 12 November 2025

Dagstuk | Dinsdag 11 November 2025

Teks: Galasiërs 5:22–23

“Die vrug van die Gees, daarenteen, is liefde, vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”


Boodskap

In gister se oordenking het ons gehoor van die keuse om nie in ons eie of ander se sonde en skuld vas te bly steek nie, maar om deur vergifnis telkens weer deur die Heilige Gees se leiding na nuwe reaksies gelei te word. Vandag se teks vat hierdie gedagte verder — en Paulus verduidelik dit op ’n eenvoudige, praktiese manier.

Ons weet hoe sterk ons emosies ons gedrag beïnvloed. Wanneer kwaad, ongeduld of frustrasie in ons opkom, lyk dit soms asof ons niks daaraan kan doen nie. Ons optrede word dikwels deur daardie emosies gedryf — en dit is moeilik om gedrag te verander wanneer ons nie eers insig het in wat dit dryf nie.

Maar die vrug van die Gees is nie bloot ’n stel goeie eienskappe wat ons self moet probeer kweek nie. Dit is die werking van die Heilige Gees wat voortdurend ons sienings, gevoelens en gedagtes ondersoek — en ons tot ander, nuwe reaksies inspireer.

Liefde, vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing kom nie natuurlik uit ons eie krag nie. Dit is God se lewende werk binne ons, die bewys dat sy Gees aan die stuur van ons lewe is.

Wanneer ons dus in moeilike, gespanne of vasgekeerde situasies beland, hoef ons nie vas te kyk teen wat buite ons gebeur nie. Ons fokus behoort te wees op wat God binne ons doen — hoe sy Gees ons gedrag vorm en ons help om anders te reageer. Wat God in ons oopbreek, vloei spontaan na buite.


Gebed

Here,
U Gees bring lewe waar ek dikwels leeg voel.
Vul my vandag met U liefde,
sodat ek ander met geduld en sagtheid kan hanteer.

Leer my om vreugde te vind — nie net in goeie tye nie,
maar ook in eenvoudige oomblikke van genade.
Gee my vrede in my hart wanneer dinge onrustig raak,
en help my om dié vrede te dra na mense rondom my.

Here, gee my geduld wanneer ek haastig of ongeduldig is,
goedhartigheid wanneer ek eerder kritiek wil lewer,
en goedheid wat nie net woorde is nie,
maar dade wat wys dat U in my leef.

Versterk my geloof en getrouheid,
sodat ek U bly volg, selfs as die pad swaar raak.
Leer my sagmoedigheid —
die krag om stil te wees wanneer ek wil baklei.

En Here, gee my selfbeheersing,
om nie deur my emosies beheer te word nie,
maar deur U Gees wat in my werk.

Laat die vrug van U Gees groei in elke deel van my lewe —
in my huis, my werk, my woorde en my gedagtes —
sodat mense iets van Christus in my kan sien.

Amen.