Teks: Markus 13
Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”
Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”
Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom: “Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?”
Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei.
“En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.
In 2016 skryf Abdriene Brown ‘n artikel oor die destydse Black Lives Matter veldtog in Amerika en se: “Things are not getting worse, they are getting uncovered. We must hold each other tight and continue to pull back the veil.” Ek sou dieselfde beskrywing wou gee vir vandag se teksvers. Markus verduidelik hoe die dissipel verwonderd is oor die argitektoniese wonder van die gebou. Maar meer as net die indrukwekkende klippe, was die tempel vir die Jode die woonplek van God, die tempel was die simbool van geloofssekerheid. Maar Jesus is nie so beindruk nie, Hy sien iets anders, ‘n rommelhoop, verwoesting en verandering.
Hierdie tipe tekse word beskryf as apokaliptiese materiaal. Miskien gaan jou gedagtes dadelik na die einde van die wêreld, of die boek van Openbaring. Maar apokaliptiek verwys eintlik na ‘n onthulling. ‘n Openbaarmaking van dit wat is. ‘n Sluier was as te ware weggetrek word om te sien wat werklik is. En dis waarna Jesus die disspel uitnooi, om te ontdek dat God kan nie vasgevang word in ‘n tempel of struktuur nie. God is nie in die blink klippe en sement nie. God is veel groter as ‘n instituut, of verklaring, of simbool. Maar meer nog as dit, dat niks in die wêreld vir ewig hou nie. Oor tyd verander alles, ook dit wat ons dalk dink so betekenisvol is. Soos wat die dissipel oor die tempel geglo het. Dalk is die vraag wat ons moet vra wat die tempels en klippe in my lewe is waarop ek vertrou, eerder as op Jesus. En wat is die waarhede waaraan ek dalk foutiewelik my lewe aan vashou wat ek dalk moet bevraagteken?