Dagstuk | Woensdag 14 Januarie 2026

Dagstuk | Dinsdag 13 Januarie 2026
Dagstuk | Donderdag 15 Januarie 2026

TEKS

Psalm 27:4–5
“Net een ding het ek van die Here gevra, en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon,
om sy goedheid te beleef en daaroor na te dink in sy tempel.
Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis,
my veilig laat skuil in sy woonplek,
my hoog op ’n rots laat staan.”

TEMA

Een ding begeer ek: om in God se teenwoordigheid te wees


BOODSKAP

Dawid het groot onstuimigheid in sy lewe beleef en moes dikwels vir sy lewe vlug. Te midde van konflik, bedreiging en onsekerheid het hy ontdek dat daar een plek is waar sy siel rus vind: in die teenwoordigheid van God. Dit is in die huis van die Here waar Dawid vrede ervaar het — ’n vrede waarvoor sy hart gesmag het.

Ook vandag, in ons moderne, gejaagde en besige lewe, dra ons dieselfde diep verlange na God se teenwoordigheid. Deur die eeue heen het ’n Latynse uitdrukking ’n groot rol in die Christelike geloof gespeel: Coram Deo — “voor die aangesig van God”. Dit beskryf ’n lewenshouding: om elke oomblik, in elke situasie, met die bewussyn te leef dat God hier is, dat Hy sien, dat Hy naby is, en dat ons hele bestaan aan Hom behoort.

Die wêreld leer ons om ons lewens op te breek in afdelings: werk, kerk, huis, rus. Maar die Bybel nooi ons na ’n ander manier van leef — ’n geïntegreerde lewe in God se teenwoordigheid. Nie ’n “kerk-lewe” en ’n “week-lewe” apart nie, maar een lewe, heel en toegewyd aan God.

Brother Lawrence, ’n kloosterbroer in Parys in die 1600’s, het hierdie leefwyse besonder mooi uitgeleef. Sy ervaringe is later opgeteken in die bekende boek The Practice of the Presence of God. Hy het God nie net in gebed gesoek nie, maar in elke alledaagse taak. Of hy gebid het of aartappels geskil het — hy het alles gedoen met die bewussyn dat God by hom is en dat alles tot God se eer kan wees.

Trevor Hudson beskryf in Signposts to Spirituality drie eenvoudige maniere om jouself te oefen om voortdurend bewus te wees van God se teenwoordigheid:

  • Fokus gedurende die dag gereeld jou gedagtes op God — dink net vir ’n oomblik aan Hom.

  • Wees voortdurend dankbaar.

  • Doen alles wat jy doen asof jy dit vir die Here doen.

Mag hierdie eenvoudige praktyke jou help om, soos Dawid, met een begeerte te leef: om in God se teenwoordigheid te wees.


GEBED

Liewe God,
ek kom na U met ’n nederige hart.
Dankie dat U my liefhet en altyd naby is, selfs wanneer ek dit nie voel nie.
Here, ek vra dat U teenwoordigheid nou by my sal wees.

Vul my hart met u vrede,
my gedagtes met u waarheid,
en my gees met u lig.

Help my om bewus te wees van U in my gedagtes, my woorde en my dade.
Lei my, troos my en trek my nader aan U.
Laat my u liefde ervaar en weet dat ek nooit alleen is nie.

Amen.