Vandag is Woensdag 14 Mei en ons het Sondag Goeieherdersondag gevier. Hierdie week reflekteer ons verder hieroor en vandag dink ons na oor die Goeie Herder wat die enigste weg is na saligheid . . .
In Johannes 10:9 sê Jesus: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.” Hy is die enigste weg na God.
Johannes 10:7-18 help ons hiermee. Dit is egter ‘n teks wat ons noukeurig by moet stilstaan en dieper verstaan wat Jesus bedoel as hy na Homself as die “ingang vir die skape” en die “Goeie Herder” verwys.
Die skaapkrale in die tyd toe Jesus geleef het, veral die krale in groot dorpe en stede, het uit hoë mure en ‘n oop ingang bestaan. Jesus gebruik dan hierdie beeldspraak deurdat Hy ook die ingang vir die skape is, sowel as die Goeie Herder. Dit beklemtoon dat dit slegs in ‘n verhouding met Hom moontlik is om deel van sy kudde te wees – Sy skape ken Sy stem. Vir dié gelowiges wat in Hom glo en Hom begin gehoorsaam, gee Hy lewe in oorvloed. Die ander skape waarvan hier gepraat word, dui op die heidene wat nog in Hom sou glo.
Om dit nog beter te verstaan: ‘n skaapkraal het in daardie tyd baie keer verskillende kuddes geakkommodeer, veral wanneer dit nie aan ‘n huis vas gebou was nie. ‘n Herder het dus baie tyd met sy skape deurgebring, sodat hulle sy stem kon leer ken. Dit het beteken dat hy hulle dus kon beheer met sy stem – net sy skape het agter hom uitgeloop as hy hulle geroep het om uit die kraal te gaan vir weiding. Dít is die intieme prentjie wat Jesus se verhouding met ons teken – Hy wil hê elke gelowige moet Sy stem só goed leer ken, dat Hy letterlik voor kan loop en ons begelei na die lewe en oorvloed wat Hy wil gee.
Die goeie Herder is die poort tot verlossing. Johannes 14:6 en Handelinge 4:12 beklemtoon dat daar geen ander weg is nie. Deur Hom vind ons weiding en lewe in oorvloed. Dit vra van ons om Hom as ons enigste hoop te aanvaar en Hom te volg.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U die poort is waardeur ek saligheid vind. Help my om U as die enigste weg te erken en U te volg. Gee my genade om in U te bly. Amen.