Dagstuk | Woensdag 17 Desember 2025

Dagstuk | Dinsdag 16 Desember 2025
Dagstuk | Donderdag 18 Desember 2025

1 Korintiërs 12:12, 18 en 22
“Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. God het die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, en die wat ons as minder fatsoenlik beskou, klee ons met groter sorg.”

Wat beteken jou deelwees van die kerk vandag?
Ons almal het in die kerk grootgeword, en dit kan maklik iets vanselfsprekend word — iets waaraan ons mettertyd minder waarde heg. Toe ek ’n kind was, het ek eintlik nie ’n keuse gehad nie: kerk toe móés ek gaan, en dikwels het ek nie eens ’n sê gehad oor die klere wat ek moes aantrek nie. “’n Baadjie moet jy dra!”

Later kom die tyd wanneer kinders die huis verlaat en ouers én kinders nie meer verplig voel om kerk toe te gaan nie. So word kerk vir sommige ’n fase wat kom en gaan. Dan is daar ook dié wat ’n “klippie in die kerkskoen” het — mense wat seerkry, teleurgesteld raak, of uiteindelik ’n ander kerk gaan soek.

Maar Paulus se begrip van kerkwees is anders. Vir hom is dit God wat ons roep en by mense uitbring wat ons, menslik gesproke, nooit self sou kies nie. In die geloofslewe is die kerk nie die doel nie, maar ’n middel tot ’n doel. Ons glo in God, maar ons glo aan die kerk — juis omdat die kerk se storie getuig van God wat deur sy Gees mense lei, leer, vorm, troos en inspireer.

Om hierdie wonder raak te sien, het ons ’n oop gemoed nodig. Ons moet nie vaskyk in die etikette wat ons aan die kerk hang nie — of dit nou te groot, te klein, te oudmodies, te progressief, te oppervlakkig, te gestruktureerd of te chaoties is. Die liggaam van Christus is meer as ons kategorieë.

Hoe verander hierdie perspektief jou eie deelwees en jou geloof aan die kerk?


Gebed

Here God,
U is die Een wat die liggaam van Christus vorm —
nie volgens ons voorkeure nie,
nie volgens ons gemak nie,
maar volgens U wysheid en U Gees.

Dankie dat die Heilige Gees ons sáámweef
tot één liggaam met verskillende gawes,
verskillende stories,
verskillende mense wat ons nooit self sou kies nie.
Maar U kies hulle.
U bring hulle in.
U maak ons één.

Help ons verstaan dat ons eenheid nie lê in ons prestasies nie,
maar in die feit dat ons almal sondig is
en almal onder dieselfde genade staan wat vergewe en herstel.

Leer ons om nie neer te sien op dié dele van die liggaam
wat anders lyk of anders dink nie.
Help ons om elke lid te eer, elkeen te dra,
elkeen se pyn te voel, en elkeen se vreugde te vier.

Amen.