Dagstuk | Woensdag 17 September 2025

Dagstuk | Dinsdag 16 September 2025
Dagstuk | Donderdag 18 September 2025

Psalm 8

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,

hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het.

So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,

wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak

en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande,

U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld,

die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Die hele gebed draai rondom hierdie vraag van die digter: Wie is die mens binne God se skepping? Wat is die waarde wat mense het, wat God aan ons laat dink? Hoe meet ons onsself teenoor die res van die skepping? Die digter vra hierdie vrae nadat hy opkyk na die hemel en soos baie van ons ook al gedoen het, diep bewus geword het van sy plek in die skepping.

Die digter kom tot die gevolgtrekking dat ons maar klein en onbeduidend is binne God se skepping. Maar gelyktydig is ons ook waardevol, omdat God ons sien as toesighouers, as ‘n mede skepper van alles wat God gemaak het. Ons is waardevol omdat God dink ons is waardevol. Die digter maak die ontdekking dat God ons vertrou met God se skepping. Dit is ‘n geweldige verantwoordelikheid. Mag ons vandag onsself herinner aan hierdie roeping en mag ons nederig en respekvol bly oor die plek wat God ons gun.