TEMA: ’N SEISOEN VAN VOORBEREIDING
TEKS: Klaagliedere 3:25–29
In Klaagliedere 3:25–29 lees ons:
“Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here …”
Ons leef in ’n era van onmiddellike bevrediging. Alles is vinnig, onmiddellik en beskikbaar. Wag pas nie maklik in ons ervaringswêreld nie. Ons hou eenvoudig nie daarvan om te wag nie. Tog laat die Here ons soms wag voordat ’n nuwe seisoen aanbreek.
Seisoene van wag voel stadig, maar hulle word nooit vermors nie. Wag beteken nie God is afwesig nie. Dikwels is Hy juis intens besig – besig om ons karakter te vorm voordat Hy sy roeping vrystel.
Die wagtyd is waar my geloof en geduld getoets én versterk word. Dit is waar ek leer om werklik op die Here te vertrou. My vermoë om te wag, hou direk verband met hoeveel ek Hom vertrou. En om Hom te vertrou, moet ek Hom ken. Ek leer Hom ken wanneer ek tyd saam met Hom en in sy Woord deurbring.
Soos ons lees in Psalms 32:10:
“Maar elkeen wat op die Here vertrou, kan op Sy groot liefde staatmaak. Die Here sal hom met Sy goedheid toevou.”
Wanneer ek erken dat God se tydsberekening altyd reg is, bring dit ’n diep vrede. Die vraag bly egter: Sal ek God vertrou in hierdie stil of seer tydperke van my lewe – om saam met Hom, volgens sy pas, te leer, te groei en te verander? Al neem dit hoe lank?
Charles Spurgeon het dit treffend opgesom:
“If the Lord makes us wait, let us do so with our whole hearts; for blessed are all they that wait for Him. He is worth waiting for. The waiting itself is beneficial to us: it tries faith, exercises patience, trains submission, and endears the blessing when it comes. The Lord’s people have always been a waiting people.”
Miskien is hierdie wagtyd nie ’n wagtyd van stilstand nie, maar ’n seisoen van voorbereiding.
GEBED
Vader God,
In hierdie seisoen van wag, maak my onrustige hart stil. Leer my om U te vertrou wanneer ek nie die pad vorentoe kan sien nie. Wanneer ongeduld opkom, herinner my daaraan dat U tydsberekening volmaak is en U planne goed is.
Help my om met geloof te wag, nie met vrees nie; met hoop, nie met twyfel nie. Versterk my in die stilte. Vorm my karakter in die wagtyd. Laat hierdie wagtyd my nader aan U bring, eerder as weg van U.
Vernu my krag terwyl ek op U vertrou, en help my glo dat wat U belowe het, op die regte tyd sal gebeur.
Amen.