Dagstuk | Woensdag 19 November 2025

Dagstuk | Dinsdag 18 November 2025
Dagstuk | Donderdag 20 November 2025

Hierdie week wandel ons verder met gedagtes uit Kolossense 4:2-6.

Kolossense 4:3-4:
“Bid terselfdertyd ook vir ons, dat God vir ons ‘n deur vir die Woord sal oopsluit, om die misterie van Christus te verkondig – dit waarvoor ek in boeie is – en bid dat ek dit met die regte woorde sal kan verduidelik.”

Paulus vra spesifiek dat medegelowiges vir hulle bid, sodat die misterie van Christus verkondig kan word. Daar lê twee belangrike gedagtes hierin opgesluit:

  1. Vra vir gebed vir jouself.
    Hoe maklik of moeilik is dit vir jou om die misterie van Christus te verkondig? Om te getuig oor hoe die Here in jou lewe werk? Of is daar iets anders waarvoor jy gebed nodig het? Paulus het die vrymoedigheid om medegelowiges te vra om vir hom in te tree. Waarvoor het jy vandag gebed nodig? Wie kan jy vra om vir jou te bid?

  2. Bid vir ander.
    Daar is groot waarde daarin om vir ander te bid. Bid vir die mense wat die verantwoordelikheid dra om die misterie van Christus te verkondig. Dalk ken jy iemand wat spesifiek gebed nodig het – bid vandag vir hierdie persoon, en wees ’n instrument van ondersteuning deur jou gebed.

Kom ons bid ook nou saam:

Gebed
Here God, ons bid vandag vir elkeen wat die misterie van Christus verkondig – deur hulle voorbeeld, woorde of dade. Lei hulle en ons met wysheid, sodat die misterie van Christus se liefde deur ons almal sigbaar kan word. Amen.