Dagstuk | Woensdag 21 Mei 2025

Dagstuk | Dinsdag 20 Mei 2025

TEKS: ROMEINE 11:33-36

33O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!

Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

34“Wie ken die bedoeling van die Here?

Wie gee Hom raad?

35Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”

36Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.

Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

BOODSKAP

Die derde retoriese vraag is: “Wie bewys Hom ‘n guns dat Hy verplig is om iets terug te doen?” En weer is die antwoord duidelik: Niemand nie! Maar ook hier verkeer ons soms onder die wanindruk dat die Here ons dinge skuld. God het nog nooit onder enige verpligting teenoor enige persoon gestaan nie. Ons kan ook nie vir God iets gee wat Hy nie reeds gemaak het nie. Niemand verdien iets by God nie. Tog red Hy ons uit genade.

Ek is dankbaar vir genade. Nee, dit is nie net ’n cliché nie. Ek is my ganse lewe verskuldig aan die oorvloedige, gratis-en-verniet genade van God. Ek is so bly ek hoef nie met Hom te onderhandel om Sy guns te probeer wen nie. Of enige teenprestasies aan Hom te lewer in ruil vir Sy hulp nie. In die woorde van Miga 6:6 – 8 hoef ek ook nie gedurig reuse offers en duur geskenke na die Here toe te neem om Sy goedkeuring te behou nie. Ek weet Hy het my eerste lief gehad, nog lank voordat ekself dit geweet of geglo het. In Romeine 5 se taal het Christus vir my gesterf toe ek nog ’n sondaar was. Hy het alles vir my opgeoffer, toe ek nog ’n vyand van God was. Hy het dit gedoen, terwyl ek magteloos in my sonde en doodsheid verstrengel was.

Ek is dankbaar dat God my lief het. Hy doen dit, omdat Hy ’n goeie en genadige God is. Hy doen dit nie, omdat Hy enigiets van my kant af nodig het nie, maar omdat Hyself vol ontferming en medelye is. Hy is die Almagtige God, wat hemel en aarde styf vashou. Hy is die Vader van alle ontferming. Daarom dat ek Romeine 11:33 – 36 vandag opnuut glo en agterna bely: “Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie kan dit waag om God se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om Sy optrede te verklaar? Wie ken God se planne? Is daar iemand, wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen? Is daar iemand, wat vir God ’n guns bewys het sodat Hy iets aan hom moet terugdoen? Van God af kom alles, wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd. Ja en amen!” (Die Boodskap)

GEBED

Dankie Here dat ek nie my verlossing hoef te koop nie, maar dat U dit vir my gratis en verniet uit genade gee. AMEN