Ons gesels hierdie week oor my ervarings tydens ons uitreik by die Boesmans daar in die noorde van Namibië. Die tweede aspek wak ek raakgesien het, was hulle eenvoudige manier van lewe.
TEKS: FILIPPENSE 1:9-10
9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees,
BOODSKAP
Ons het elke dag verskillende habitatte besoek waar die Boesmans bly. ‘n Habitat is soos ‘n klein nedersetting waar verskillende hoeveelhede Boesmans bly. Sommige Boesmans bly nog baie tradisioneel in die “dome” tipe hutte wat hulle bou van gras en klei. Ander bly in huisies wat hulle bou van klei en klip. Hulle leef baie eenvoudig. Kos word versamel uit die veld uit. Baie keer as daar droogte is, is daar nie veel om te eet nie. Water is ook ‘n skaars luuksheid.
Terwyl ek daar onder die Boesmans geloop het en hulle leefwêreld beleef het, het ek besef dit is waaraan hulle gewoond is. Hulle is gewoond daaraan om sonder elektrisiteit, lopende water, gasstowe, internet en selfone te leef. Maar dit het my weer laat dink aan my eie lewe. Waaraan heg ek werklik waarde? Is dit al die luukshede wat die lewe so gemaklik en gerieflik maak of is daar iets anders? Soos Paulus sê dat ons kan onderskei waarop dit werklik aankom.
In sy boek “Rykdom in Eenvoud” gee Willem Nicol vir ons ‘n moontlike oplossing: “Ons samelewing wil ons graag wysmaak dat ‘n mens jou lewe moet verryk deur dit al voller te maak met besittings, aktiwiteite, status en mag, maar in werklikheid lei dit na ‘n gejaag wat jou lewe verarm en innerlik leeg laat loop. Daar lê groter rykdom in die teenoorgestelde rigting, naamlik eenvoud.”
Beteken dit nou ek moet als verkoop en so eenvoudig soos die Boesmans begin leef? Nee, die geskenk van eenvoud gaan ons nie beleef as ons net afskaal aan ons besittings, minder geldgierig raak of ons skedule eenvoudiger maak nie. Eenvoud is nie geleë in ‘n eenvoudige huishouding of plek nie, ‘n kleiner klerekas of ‘n stiller kalender nie. Daar is geen 12-stap plan nie, geen konsultant wat dit vir ons kan skep nie. Eenvoud is iets wat hier in ons harte moet gebeur. Eenvoud gaan ek en jy slegs beleef in die lig van ons verhouding met God. Daarom wil ons eerder praat van ‘n spiritualiteit van eenvoud.
Eenvoud gaan met ander woorde oor dit wat regtig belangrik is in die lewe en dit wat ek regtig nodig het itv God se koninkryk. Eenvoud is dus iets wat binne ons begin en dan ‘n effek het op die manier waarop ons lewe.
GEBED
Die Boesman se Onse Vader
Geskryf deur P.J. van den Heever:
“Onse Vader wat doer êrns vêr bo in die bloulug is, diese warm dag wil ikke op myse kniege tot U kom bid: Lat U se koningskap tog by ons kom, en lat U se grootheid hier tissen ons staan gemaak kan worre, en lat U se wil gebeure doer bo by U rond, net so gebeure hier by ons Boesm’land se grond. Gee ons vandag onse tjai-impie kos en vergewe ons, onse sondige gemors, sos ons die ander minse sin vergeef. Here lat die kwaad doen goerterse wye draaie om ons loop en gee tog samblief Here lat die duwel nie naby kom nie. Die minse doen sulke lelike goerters teen my, maar help tog samblief dat ik dit nie sal raak sien nie, dan sal U mos ok nie myne raak sien nie. U is vir altyd en vir altyd. Amene my groot Kroon.”