Dagstuk | Woensdag 24 Desember 2025

Dagstuk | Dinsdag 23 Desember 2026
Dagstuk | Donderdag 25 Desember 2025

https://youtu.be/UwD0mNziMzA

1 Korintiërs 13:3

3Al deel ek al my besittings uit,
en gee ek my liggaam oor,
sodat ek my daarop kan beroem,
maar ek het nie liefde nie,
baat dit my niks.

Die motivering waarmee ons enige iets doen, maak saak. Hierdie is die enigste gedeelte in Paulus se boodskap oor liefde wat die woordjie sodat bevat. As ek goeie dinge doen, selfs al deel ek al my besittings uit en offer ek myself op, sodat ek my daarop kan beroem, maar ek het nie liefde nie, baat dit my niks.

Die feit dat mense eintlik net iets vir ander doen as hulle self ook iets baat, is vandag so algemeen dat ons agterdogtig is oor enige iemand wat net uit liefde iets vir iemand anders doen, sonder om iets terug te verwag. Daar is byvoorbeeld ’n klomp video’s op die internet waar iemand geld probeer uitdeel aan vreemdelinge, sonder om enige iets terug te verwag. Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie, want hulle verwag dat mense die video op die internet sal kyk, maar die persoon vir wie hulle die geld gee, hoef niks daarvoor te doen nie. Dit is opmerklik dat die meeste mense dadelik nee sê en agterdogtig is, omdat hulle dadelik aanneem daar is een of ander catch. Ons verwag nie meer dat mense iets doen sonder om enige iets terug te verwag nie.

Of dink aan die manier wat ons vir mekaar geskenke uitdeel met Kersfees, of met iemand se verjaarsdag. Ons noem dit ’n geskenk, maar soms lyk dit meer soos ’n vorm van ruilhandel. Ek gaan net vir jou iets gee as ek ook ’n geskenk kry. En as jy vir my iets gee wat minder waarde het as wat ek vir jou gee, gaan jy volgende jaar ’n kleiner geskenk kry.

Wanneer ons onsself opoffer en wanneer ons gee, is dit dalk waardevol om ’n oomblik op te let na wat in ons harte aangaan en vir onsself te vra wat motiveer hierdie opoffering of geskenk. Voel ons verplig, of skuldig, of verwag ek iets in ruil daarvoor? Of doen ek dit bloot uit liefde?

Dink vir ’n oomblik aan die manier wat jy gee of wat jy opofferings maak? As jy eerlik is, wat is jou motivering hieragter?

Ons kan dink dat Paulus sê, as jy nie in liefde gee nie, moet jy ophou gee. Maar om te gee en jouself op te offer, is ook ’n manier om jou liefde te kweek. Dalk, as jy besef die manier wat jy gee het ruilhandel geword, of dat jy jouself opoffer om eer terug te kry, moet jy nie ophou gee nie, maar dalk net vir ’n rukkie op ’n ander manier gee of vir iemand anders gee, om toe te laat dat die manier wat jy gee, weer liefde in jou hart kweek.

In hierdie feestyd, mag ons onsself opnuut herinner hoekom ons gee. Omdat ons die grootste geskenk van liefde in Jesus Christus ontvang het en daarom ook uit liefde uit wil gee vir ander.

Gebed

Here God, ondersoek my hart en die redes hoekom ek gee en myself opoffer. Mag U my bly herinner dat ek dit nie doen omdat ek eer wil wen of iets in ruil wil terug kry nie, maar in die eerste plek omdat U my lief het en ek daarom, in liefde, myself wil gee vir ander.

Amen.