Dagstuk | Woensdag 24 Julie 2024

Dagstuk | Dinsdag 23 Julie 2024
Dagstuk | Donderdag 25 Julie 2024

Vandag is Woensdag 24 Julie en welkom by hierdie week se oordenkings. Komende Vrydag begin die Olimpiese Spele waar ons uitsien om die beste van bestes op die wêreldverhoog te sien. Dit wat ons in die volgende maand op ons skerms gaan beleef, kom nie sonder harde werk nie. Dit verg spanwerk, volharding en uithouvermoë. Daar is hoogte en laagtepunte, beserings en druk van toeskouers en opponente. Gelukkig vir ons het ons ’n afrigter, fisioterapeut en spanbestuurder in ons Hemelse Vader en Hy is altyd aan ons kant en vir ons. Hierdie week kyk ons deur die bril van die Olimpiese Spele na ons eie wedstryd van die lewe.

Vandag se Bybelvers: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee“. – Filippense 4:13

Hierdie vers is ‘n kragtige versekerde verklaring wat deur die apostel Paulus gemaak word. Hy erken dat sy vermoë om alles te doen nie uit eie krag kom nie, maar deur die krag van Christus wat in hom werk. Dit herinner ons as gelowiges daaraan dat ons nie op eie vermoë moet vertrou nie, maar op die krag van God wat ons in alle omstandighede ondersteun en versterk. Waar het jy krag vandag nodig? Wie sien jy raak wat tans sukkelend deur die lewe gaan en motivering kort. Tree in gebed in by die Here en vra vir uitkoms in moeilike situasies. Bid vir sy krag en voorsienigheid.

Gebed: Liefdevolle Vader, ons bid vir al die atlete wat die Olimpiese Spele bywoon, dat hulle u genade en krag mag ervaar in hulle wedloop en in hulle en ons se eie geestelike wedstryd van die lewe. Help ons om nie net fisies sterk te wees nie, maar ook geestelik deur ons vertroue op U te stel. Mag ons ‘n getuie wees van u krag wat in ons swakheid volmaak word. Amen.