Dagstuk | Woensdag 25 Februarie 2026

Dagstuk | Dinsdag 24 Februarie 2026
Dagstuk | Donderdag 26 Februarie 2026

Klaagliedere 3:18

“Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.”

Hierdie gebed kom nie net uit geestelike nood nie, maar uit fisiese nood. Omstandighede het daartoe gelei dat gelowiges wie se stemme ons in Klaagliedere hoor, hulle huise en land verloor het. Hulle leef as immigrante in die vreemdheid van ’n ander land, godsdiens en kultuur. Daar is geen gedagte of insig wat by hulle opkom wat hierdie omstandighede vir hulle beter kan maak nie. Al waarmee hulle gelaat is, is die bitterheid van hulle omstandighede.

Daar word vandag baie gepraat oor immigrante en die probleme wat deur hulle teenwoordigheid geskep word. Dit is vir ons ondenkbaar dat so iets ons kan oorkom. En tog kan dit gebeur. Klaagliedere gaan egter oor iets groter as mense se verlies. Dit wil ons help om in te sien dat God in hierdie omstandighede op ’n veel groter skaal met mense besig is. In plaas daarvan om in die galbitter te bly, het dit gelowiges uitgedaag om die foute wat tot hierdie omstandighede gelei het, te erken en God toe te laat om dit daadwerklik aan te spreek. Tog verkies ons baie keer om by die galbitter vas te haak, eerder as om dit as ’n geleentheid vir herstel en vernuwing te sien.

Wat is die fisiese nood wat jou by ’n plek van galbraak bring en waaroor jou gedagtes vasgedraai het? Hoe is die Here besig om jou in hierdie plek om te draai?

Gebed

Here, u Woord sê dat U die mens toets, dat ons moet besef hoe broos ons is — hoe maklik alles waarop ons steun onder ons kan wegval.

Daar is mense, Here, wat nie meer net oor broosheid nadink nie, maar dit leef. Hulle het hul huise verloor, hul werk, hul veiligheid, soms selfs hul geliefdes. Wat eens seker was, lê nou in puin. Die uitsigloosheid van hulle verlies is rede om gal te braak. En dan doen ons dieselfde wanneer ons van ’n afstand na hulle omstandighede kyk en daaroor redeneer.

Here, leer ons om hierdie omstandighede te onderskei en, eerder as om gal te braak, met geloof daarop te reageer. Help ons om die foute van die verlede raak te sien, om dit nooit weer te herhaal nie, maar ook om op ’n veel sagter manier en met meer deernis op mense se fisiese nood te reageer. Help ons om te verstaan dat ons geloof en hoop leef in die sigbare ruimtes waar herstel gebring word.