Dagstuk | Woensdag 25 September 2024

Dagstuk | Dinsdag 24 September 2024
Dagstuk | Donderdag 26 September 2024

 

Goeiedag, vandag is Woensdag 25 September en die maand fokus ons as gemeente op die skepping en op maniere hoe ons kan omsien na die skepping.

Ons lees Genesis 1:26:  Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

Die vers herinner vir my en vir jou dat God ons op so ’n manier geskape het dat ons Hom op aarde sal verteenwoordig. Dat ons sal omsien na sy skepping op met dieselfde liefde en omgee as wat Hy daarna sou omsien. Om met liefde om te gaan met die skepping behels hoe ons na die aarde kyk, m.a.w. hanteer ons God se plante, water, ens.  met die nodige respek en omgee. Om Sy verteenwoordigers te wees beteken nie dat ons belangriker is as die res van die skepping nie, maar dat ons die verantwoordelikheid gekry het om regtig na sy skepping om te sien. Met dieselfde asem waarmee ek en jy geskape is, is elke plant en dier ook geskape.

Ek daag julle uit om vandag na te dink oor hoe ‘n mens jou verantwoordelikheid as God se verteenwoordiger op aarde kan vervul en uitleef.

Kom ons bid saam:

Dankie Here dat U my geskape het na u beeld. Dankie vir elke plant en dier wat U geskape het. Dankie dat ons die skoonheid van die blomme, die getijrp van die voëltjies en die skadu en vrugte van die bome kan geniet. Here, help my om ook om te sien na die res van die skepping en dit nie op so ’n manier te gebruik dat ek dit beseer nie. Help my om te weet hoe ek u Skepping moet hanteer.