Dagstuk | Woensdag 26 Maart 2025

Dagstuk | Dinsdag 25 Maart 2025
Dagstuk | Donderdag 27 Maart 2025

Romeine 8:38-39

38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Refleksie

Paulus bring ons lewe in perspektief. Wanneer ons deur ’n donker tyd gaan, kry ons dikwels tonnelvisie en word gefokus op onsself en ons eie probleme. Ons kan nie verder sien as die donkerte wat ons beleef nie. Paulus help ons om nuwe perspektief te kry op die donkerte wat ons beleef. Op die ou eind, as ons die kruis van Christus in ag neem, word ons grootste uitdagings gerelativeer deur God se liefde. Niks kan ons skei van die liefde van Christus nie.

Dink aan die uitdagings wat jy al in die gesig gestaar het en hoe God se liefde deur daardie tye jou anker was. Die teks verseker ons van ‘n liefde wat standvastig bly, ongeag ons omstandighede. Neem vandag tyd om te mediteer oor hierdie waarheid en laat dit jou vrede en moed gee te midde van jou huidige uitdagings. As jy vrees of angs ervaar, laat Romeine 8 jou hart weer in die waarheid van God se ewige liefde anker.

Gebed

Genadige God, ek dank U dat u liefde onwankelbaar en ewig is. Vul my met die wete van U teenwoordigheid in my lewe, veral in uitdagende tye. Amen.