Dagstuk | Woensdag 27 Maart 2024

Dagstuk | Donderdag 28 Maart 2024
Dagstuk | Dinsdag 26 Maart 2024

Steek ’n kers aan

Inleidend

Die Via Dolorosa: die weg van smart en pyn. Gister het ons saam met Jesus gestap tot by Dinsdag en gekyk wat Hy alles gedoen het. Vandag stap ons verder en begin by die Woensdag.

Woensdag VOOR GOEIE VRYDAG

Op hierdie dag het die Sanhedrin alreeds in Kajafas se paleis vergader en saam raad gehou om Jesus gevange te neem. Maar hulle besluit tog om nie hulle plan tydens die Pasgafeestyd uit te voer nie, dit sou ’n te groot oproering veroorsaak. Die mens maak sy planne maar op die ou einde is dit God wat oor alles beskik. Ons weet dat Jesus wel tydens die feestyd gevang is, want God het dit so beskik.

Op hierdie Woensdag was Jesus nie in Jerusalem nie, Hy was in Betanië by sy vriende aan huis. Van die mense wat die dag saam met Jesus gekuier het was Simon, wie Jesus van sy melaatsheid genees het, Hy was ook saam met Lasarus, Martha en Jesus se dissipels.  Almal Sy hartsmense wat met bande van liefde en dankbaarheid aan Hom verbind is.

Dan kom Maria die vertrek binne met ‘n baie besondere albaste fles vol suiwer nardusolie. Sy het hierdie hele fles kosbare olie op Jesus se hoof uitgegiet om Hom te salf as Messias en om Hom voor te berei vir Sy sterwe. Dadelik is die dissipels ontsteld oor die mors van hierdie duur olie. Hulle maak aanmerkings dat hierdie duur olie eerder verkoop kon word en die geld vir die armes gebruik kon word. Maria het Jesus so lief gehad dat koste vir haar ’n bysaak was. Die dissipels het nie ‘n idee gehad waaroor dit gaan nie en wat vir Jesus voorlê nie al het Hy hulle dikwels daarop voorberei. Daarom verdedig Jesus vir Maria en wys die dissipels daarop dat sy Hom gesalf het vir Sy begrafnis.  Sy begrafnis wat net twee dae ver is.

Maar op hierdie dag is daar ook gebeure wat Jesus se kruisigingpad aan die gang sit. Een van die twaalf dissipels het na die priesterhoofde gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande beland?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was Judas op die uitkyk na ’n geskikte geleentheid om Jesus te verraai. Die besluit is geneem deur Judas om Jesus oor te gee om gekruisig te word. Was die priesterhoofde nie dankbaar daaroor nie? Hulle soek al so lank ’n geleentheid om Jesus in hegtenis te neem. Nou kom een van Jesus se eie manne en bied aan om te help om Hom te vang.

Vraag om oor na te dink: Het iemand jou al in die rug gesteek en hoe het jy daardie persoon vergewe?

GEBED

Here, net soos Jesus verraai is is ek ook al verraai. Help my om die persoon volkome te vergewe.

Amen