7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Vrede. Wat kom by jou op wanneer jy die woord “vrede” lees. Watter beelde sien jy in jou gedagtes as jy die woord vrede hoor? Dis werklik iets wat ons begeer die tyd van die jaar.
Kan jy jou dit voorstel hoe dit moet wees om in ‘n wêreld te leef waar daar vrede is en waar daar geen bekommernisse is nie. Dit klink byna onmoontlik, want ons weet ons woon in ‘n land wat vol misdaad is, waar werksekuriteit nie bestaan nie en waar morele verval daagliks sigbaar is. Die meeste van ons bekommer ons oor een of ander aspek van die lewe. Hetsy dit die werk, ouers, finansies, skoolwerk, huweliksmaat, uitslae van ‘n mediese toets of die toekoms van ons land is.
Christus is ons vrede soos ons lees in Fil 4:7. Dit is die vrede wat Hy aan Sy dissipels geleer het wat Hy met Sy hemelvaart oor elkeen uitgestort het. Dit is die vrede wat engele met Sy geboorte uitgejubel het in Luk 2:14: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!” Vrede beteken nie die afwesigheid van bekommernis, probleme en konflik nie. Jy sal eers ware vrede ervaar as jy jouself herinner en daarop instel dat God in beheer is en dat God jou veilig in Sy hande vashou.
Hemelse Vader, selfs wanneer my lewe deurmekaar voel, kan ek u vrede ervaar as gevolg van wat Jesus aan die kruis gedoen het. Dankie dat U vrede vir ons moontlik maak het deur U Seun vir ons te stuur! Hy het vir ons ‘n weg gemaak om U te ken en te ervaar. Selfs wanneer die lewe buite beheer voel, kan ek vashou aan die waarheid dat U vrede nie op my gevoelens of omstandighede berus nie — maar op U genade.