Matteus 18:21 Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.
Ons dink hierdie week saam oor vergifnis en wat Jesus bedoel het toe hy vir Petrus verduidelik om mense te vergewe wat iets teen ander doen. Nora Gallagher het op ‘n slag geskryf dat “Forgiveness is a way to unburden oneself from the constant pressure of rewriting the past.” Ek dink as dit waar is, vra vergifnis ons om liefde te kies eerder as bitterheid. Die alternatief is dat ons pyn ons kan verswelg en so ons identiteit raak. Ek gebruik dan my woede as ‘n wapen in elke gesprek met mense wat my seer maak. Om te vergewe is daarom om te kies dat bitterheid my nie oorheers nie en nie ‘n lewenslange houvas op my kry nie. Ek los dan my woede en seer in Jesus se hande en kies eerder liefde. Maar ek vermoed baie van ons vertrou nie heeltemal hierdie opsie nie. Ons is dalk meer gemaklik met wraak en straf. Maar die Bybel vertel vir ons dat God se liefde ook geregtigheid insluit, maar ‘n geregtigheid wat herstel. Ek dink dis dalk ‘n vreemde gedagte vir ons, maar God se geregtigheid sluit die mag in om beide die slagoffer en oortreder te genees. Dus is vergifnis nie om bitterheid te kies nie, maar liefde.
Laastens dink ek ook is vergifnis die keuse om anders te kyk na dit wat aan jou gedoen, is. Om iewers te ontdek dat God op stil en onopmerklike maniere ook die ergste wat met ’n mens kan gebeur, oor tyd kan verander in iets anders. Selfs iets mooi en nuut. As gelowiges glo ons dat ons lewens op die ou einde nie net eindig in tragedie en totale verlies nie, want daar is altyd nog ‘n hoofstuk om te skryf, nog ‘n pad om te loop nog ‘n opsie om te oorweeg. Mag ons op ons eie manier en op ons eie tyd ook hierdie geskenk van God ontvang, die geskenk van vergifnis.