Dagstuk | Woensdag 28 Mei 2025

Dagstuk | Dinsdag 27 Mei 2025
Dagstuk | Donderdag 29 Maart 2025

Romeine 14:17. Die Koninkryk van God is nie ‘n saak van eet of drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.

In die tyd van Paulus was daar nie een kerk in Rome nie. Verskeie groepe het in verskillende huise bymekaargekom en gou het daar spanning ontwikkel watter groep nader aan God se waarheid is. Hierdie selfde spanning deur die vroeë Christendom gespoel namate daar ‘n al groter skeiding gekom het tussen die ou Joodse gebruike en ‘n geloof wat in verskillende kulture deurdring het. God het hom nooit eksklusief tot een groep en hulle manier van godsdiens verbind nie. Reg deur die Ou Testament hoor jy gedurig dat God se doel met sy verbintenis aan Israel te doen gehad het om tot ‘n seën vir al die nasies te wees. Daarmee saam volg die tragiese geskiedenis van die volk wat sukkel om dit te verstaan en hulle gedurig vasloop in hulle eie verwagtinge. Dit het nie die vreugde en vrede gebring waarop hulle gehoop het nie. Vandag is daar is ‘n veelheid van kulture en kerke wat hulle aan die doel van God se koninkryk verbind. En selfs binne ons eie gemeente en denominasie is daar ‘n groot verskeidenheid. Ons moet verstaan dat hierdie verskeidenheid nie altyd net te doen het met kerke wat afstig omdat hulle dink hulle meer gehoorsaam aan God leef nie, maar dat die Heilige Gees ook op ‘n verskeidenheid maniere mense in God se koninkryk gebruik. Dit is jammer wanneer ‘n geloof wat veronderstel is om vrede en vreugde te bring eerder gelowiges lei tot beoordeling en spanning. Dit is tragies dat die Christendom se grootste bate maklik sy grootste las kan raak. Hoe praat hierdie perspektief vandag met jou oor hoe God vandag heers? Bring dit spanning of maak dit in jou ‘n vrede en vreugde wakker?

Gebed

Here, die grootheid en omvang van U Koninkryk maak ons oë opnuut oop vir die omvang van waarvoor U vandag en waarvoor ons vandag geroep word. En skielik raak die groot dinge wat ons soveel waarde aan heg irrelevant en ander dinge wat ons misgekyk het word nou belang. En skielik verdwyn die spanning en ongelukkigheid wat ons so dikwels vir lank in ons ronddra om plek te maak vir vreugde en vrede. Dankie dat U Gees ons voortdurend lei en leer om ons by hierdie vreugde en vrede uit te bring. Ons wy onsself aan U toe om voortdurend bewus te wees om ons hede te onderskei en nie toe te laat dat onbenullighede die werking van U Gees in die wiele ry nie.