Kolossense 3:13. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe moet julle mekaar ook vergewe.
’n Mens kan baie gou frustreer raak met hoe onnodig verkeerd dinge in ons leefwêreld verloop. Vanuit ons eie perspektief is die oorsaak en oplossing van die wêreld se probleme wat oor ons pad kom eenvoudig. Ons bydrae om dit reg te maak kom dikwels deur kritiek te lewe. Wat is die probleme in jou leefwêreld waaroor jy sterk opinies en verwagtinge van mense het? Die lewe en ons wêreld se uitdagings is egter baie meer kompleks as die eenvoudige antwoorde en perspektiewe wat ons mee vorendag kom. Hoe leef ons dan as navolgers van Christus in die kompleksiteit daarvan? Een van die belangrikste waardes wat die Bybel ons leer is geduld. Dit is gegrond in die karakter van God. Die vermoë om met ons sonde en die gebrokenheid van die wêreld saam te leef en deur vergifnis eerder as deur kritiek te verander. Dit vra van ons om onsself, ons eie perspektiewe en verwagtinge vir ‘n oomblik prys te gee om in die situasie die wonder van God se genade te beleef wat baie prakties kan heelmaak en genees. Hierdie gedagte, wat ons baie keer ontgaan, kom op ‘n kragtige en eenvoudige manier elke dag na ons in die waarheid van ons teksgedeelte: Soos die Here my elke dag vergewe – so moet ons ook mekaar vergewe. Watter vrede bring hierdie gedagte in jou lewe oor die spanning en konflik waarmee jy lewe? Watter roeping maak dit in jou los om uitdagings en probleme op te los? By watter mens bring dit jou vandag uit?
Gebed
Liewe Hemelse Vader, Dankie vir U onmeetlike genade en vergifnis.
U het ons vergewe, selfs toe ons dit nie verdien het nie.
Help ons om ander te verdra met geduld en sagtheid.
Leer ons om nie wrok te koester nie,
maar eerder om te vergewe soos U ons vergewe het.
Wanneer iemand ons seermaak, gee ons die moed om te kies vir vergifnis bo bitterheid.
Laat ons harte sag bly en ons woorde vol genade.
Mag ons altyd herinner word aan U liefde,
sodat ons dit kan uitleef teenoor ander.
In Jesus se Naam bid ons dit.
Amen.