https://www.youtube.com/watch?v=yO_Ob2dKVoY
Romeine 13:10-11
Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is.
Daar gaan nie ‘n dag in ons lewens verby sonder dat ons aan tyd dink nie. Dit is altyd vir ons belangrik om te weet hoe laat dit is. Dit help ons om op ‘n sinvolle manier alles in ons lewe te orden en take af te handel. Maar, net soos wat jy iets op jou lysie afhandel kom daar weer ’n ander taak in sy plek wat ons aandag/tyd verg. Hierdie sirkelgang van tyd waarin ons vasgevang leef, het die Prediker moedeloos gelaat. Maar dan getuig hy in Prediker 3:11 dat God aan die mens ook ‘n begrip van die onbepaalde tyd gegee het. Hierdie insig het Prediker se beoordeling van die goed en sleg waarby tyd ons uitbring kom relativeer. Hy het ontdek dat beide deel is van dieselfde kosbare geskenk van lewe. Wanneer Paulus ons in vandag se teks aanmoedig om die tyd dop te hou bring hy ons by dieselfde insig uit. Time has a wonderful way of showing us what really matters. Wat maak regtig vandag vir jou saak?
Gebed
Here, met die sonsopkoms van hierdie nuwe dag, bid ek dat U my sal seën met die wysheid en krag om U wil te ken en te doen; sodat ek saans met sononder vreugdevol kan gaan rus in die wete dat ek dié dag my werk vir U reg en goed gedoen het. Gee my elke aand met die opkoms van die silwermaan en onder die skittering van U sterre ‘n dankbare hart vir die mooi om my waarvan U my elke dag die voorreg gee om in te leef en dat ek deur ‘n klein bietjie liefde tot die grootheid van U skepping kan bydra. Amen.