Dagstuk | Woensdag 5 Februarie 2025

Dagstuk | Dinsdag 4 Februarie 2025
Dagstuk | Donderdag 6 Februarie 2025

TEMA: VRUG VAN DIE GEES : VREDE

TEKS:  GALASIëRS 5:22 (BYBEL VIR ALMAL)

22Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik en goed, hulle doen wat hulle belowe, 23hulle word nie maklik kwaad nie, hulle bly kalm. Die wette sê al hierdie dinge is goed. 

BOODSKAP

Ons ervaar baie keer onvrede met God en met ons naaste. Dis waar ons grootste seer in die lewe lê: stukkende verhoudings. Die ou kerkvader Augustinus het in die 3e eeu gesê: My hart bly onrustig totdat dit in U vrede vind. Ons kon nie self vrede met God vind nie. Daarom het die Here ingegryp, en self ‘n plan gemaak. Hy het vir ons die Vredevors gestuur (Jesaja 9:5) Jesus het gekom om die stukkende verhoudings met God, met ons naaste en met onsself te kom herstel.

Hoor hoe mooi het Hy dit die aand voor sy dood beskryf in Johannes 14:27

“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” 

Die vrede wat ons nodig het, is dit wat Jesus vir ons kom gee het: hemelse vrede. Vrede met God. Paulus beskryf dit so mooi in Romeine 5:1-2 “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2 Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.”

Hierdie Goddelike vrede het ook ons menseverhoudings kom aanspreek. Jesus het ons die opdrag gegee om ons naaste so lief soos onsself te hê. God se Koninkryk bestaan uit verhoudinge wat heel word. Daar is nie plek vir haat en vyandskap nie, daarom is die opdrag dat ons mekaar van harte moet vergewe as ons iets teen mekaar het (Matteus 6:12 en 5: 21-26) Jesus het dan gesê: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word...”

GEBED

‘n Gebed vir Vrede

Vader, U is die Skepper van vrede, en ek kan tot u vredevolle teenwoordigheid toegang verkry tot hierdie vrede. Ek bid vandag vir U Goddelike vrede in my lewe.  amen.