Dagstuk | Woensdag 6 Augustus 2025

Dagstuk | Dinsdag 5 Augustus 2025
Dagstuk | Donderdag 7 Augustus 2025

https://youtu.be/0sB1ClaC8HI

Ons is tans in koninkrykstyd en besig met ’n reeks: So ook op die aarde. Hierdie week reis ons saam met die verhaal van Rut, wat ons help om te sien hoe God se genade sigbaar word in ons weerloosheid.

Rut 2:2

Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord.

Refleksie

Hierdie versoek mag dalk vir ons eenvoudig lyk, maar wat Rut doen, is dapper. Die verteller van die verhaal herinner ons telkens daaraan dat Rut ’n Moabiet was. Die rede daarvoor is eenvoudig: Moabiete was nie welkom in Israel nie. Deur gerwe te gaan optel, stel Rut haarself bloot. Haar versoek is ook nie ’n permanente oplossing vir hulle omstandighede nie, maar ’n eenvoudige eerste tree. Sy waag ’n kans om te doen wat sy kan om ’n verskil in hulle omstandighede te probeer maak.

Ons voel soms oorweldig deur ons omstandighede en dink dat ons probleme te groot is om op te los. Dit is waar vir ons eie lewens, wat nog gepraat van makro kwessies soos klimaatsverandering, besoedeling en korrupsie. As ons dink aan hierdie groot kwessies, raak ons onmiddellik oorweldig en ons doen dan niks. Maar dikwels is dit klein aksies wat groot verandering aan die rol sit. Rut begin waar sy is, en doen wat sy kan. Al is dit nie ‘n permanente oplossing nie, sit dit haar op ‘n pad wat uiteindelik vir haar en Naomi verlossing bring.

Malcolm Gladwell skryf in sy boek Tipping Point: “Look at the world around you. It may seem like an immovable, implacable place. It is not. With the slightest push—in just the right place—it can be tipped.”

Dink aan ’n uitdaging, of kwessie wat vir jou onmoontlik voel, of onbeweegbaar lyk. Wat is iets kleins, binne jou vermoë, wat ’n klein verskil sal maak en ’n stap in die regte rigting is, al is dit hoe klein?

Begin vandag waar jy is en doen wat jy vandag kan doen.

Gebed

Here, ons omstandighede voel soms vir ons oorweldigend en onmoontlik. Herinner ons vandag daaraan dat dit wat vir ons onmoontlik lyk, by U moontlik is. Help ons om vandag ’n tree te gee, al is dit hoe klein, om die onmoontlike te begin moontlik maak.

Amen