Dagstuk | Woensdag 8 Oktober 2025

Dagstuk | Dinsdag 7 Oktober 2025
Dagstuk | Donderdag 9 Oktober 2025

 

Tema: Stiltetyd is om in die teenwoordigheid van God in te gaan

TEKS: Psalm 15:1-2 Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat.  

BOODSKAP:

Psalm 15 is ‘n uitnodiging om in God se teenwoordigheid te wees. Dawid begin met ‘n belangrike vraag: Wie mag by God woon? Wie mag in God se teenwoordigheid wees? Hierdie vraag gaan nie net oor fisiese toegang tot die tempel of heilige plekke nie, maar oor die geestelike kwaliteite wat nodig is om in ‘n lewende verhouding met God te wees.

Die psalm lys eienskappe van die persoon wat in God se heiligheid mag staan: hulle leef onberispelik, spreek die waarheid, vermy kwaad, eer God, en bly getrou aan hul beloftes, selfs al kos dit iets. Hierdie standaarde illustreer hoe ‘n lewe van toewyding en integriteit lyk. So ‘n lewe is juis die uitvloeisel van lewe in God se teenwoordigheid. Jesus Christus het dit vir ons moontlik gemaak om in God se teenwoordigheid te mag ingaan.

Stiltetyd is om in God se teenwoordigheid in te gaan. Stiltetyd is ‘n een tot een ontmoeting met God. God se teenwoordigheid is nie net ‘n plek nie—dit is ‘n persoon. Hy nooi ons in ‘n intieme verhouding met Hom. Van die begin af, in die tuin van Eden, het God met Adam en Eva gewandel. Sy hart was nog altyd om naby ons te wees.

Natuurlik doen dit iets aan my. Dit is wanneer ek gereeld in God se teenwoordigheid ingaan wat ek ‘n dieper verhouding met Hom ontwikkel en my ou lewe aflê.

Wanneer ons tyd in God se teenwoordigheid spandeer, verander dit ons van binne af uit. Sy heiligheid, liefde en waarheid vorm ons karakter.

GEBED

Here, dankie dat U altyd naby is. Leer my om elke dag in U teenwoordigheid te leef. Help my om stil te word, om U stem te hoor, en om deur U verander te word. Ek gee my hart weer aan U oor. In Jesus se Naam, Amen.