Hy was daar in die gevangenis, 21 maar die Here was met Josef en het in sy troue liefde na hom uitgereik.
Het jy al ooit gevoel asof die wêreld teen jou is? Asof jy jou beste probeer, maar dinge wil net nie na jou kant toe gaan nie? Josef sou dalk ook so kon voel terwyl hy in die tronk was. Ten spyte daarvan dat Josef niks verkeerd gedoen het nie, is hy in ’n situasie wat hy nie wil wees nie. Dinge wil nie net nie vir hom uitwerk nie en dit voel of die wêreld teen hom gekant is.
Dalk was jy al op so ’n plek in jou lewe, of dalk ervaar jy nou iets daarvan. Ons werk dikwels, in ons onderbewussyn, met die idee dat goeie dade beloon word en slegte dade gestraf word. Die verhaal van Josef trek ’n streep deur daardie gedagte. Soms, ten spyte van ons goeie dade, beland ons in die tronk. In ’n plek waar ons nie wil wees nie en voel dit of die wêreld teen ons gekant is.
Terwyl Josef in die tronk is, is daar hierdie besonderse sin, wat al vir die tweede keer herhaal word in die verhaal van Josef: “maar die Here was by Josef.”
Die verhaal van Josef belowe nie dat ons geen teëspoed gaan ervaar wanneer ons doen wat die Here van ons vra nie. Inteendeel. Maar die verhaal van Josef herinner ons dat God teenwoordig is. Dat God by ons is, veral wanneer dit voel of die wêreld teen ons is. En dit maak die wêreld se verskil, want, soos Paulus sê: as God vir ons is, wie kan dan teen ons wees?
Wat beteken dit vir jou dat die Here by jou is?
Raak vandag bewus van die Here se teenwoordigheid by jou en om jou. Waar sien jy die Here se teenwoordigheid raak?
Here, dankie dat ons kan weet dat U by ons is. Help ons om, waar ook al ons is, met ’n bewustheid te leef dat U by ons is. Mag U ons gebruik om, soos Josef, ’n seën te wees vir die wêreld rondom ons, veral wanneer dit vir ons voel of die wêreld teen ons is.
Amen