Dasgstuk | Woensdag 17 April 2024

Dagstuk | Dinsdag 16 Julie 2024
Donderdag 18 Julie 2024

Woensdag 17 Julie

Hierdie week reis ons deur die storie van Saggeus. Vandag reflekteer ons vêrder oor die volgende gedeelte van die verhaal van Saggeus.

Lukas 19:5-6

Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.

Refleksie

Jesus sien vir Saggeus raak terwyl hy in die boom sit en noem hom op die naam. Ons kan onsself indink dat Jesus nie net iemand vreemd sien wat in ’n boom sien nie, maar dat Jesus vir Saggeus ken en die diepte van sy hart raaksien. Jesus kyk op ’n ander manier na hom en sien iets anders raak as die res van die skare. Ek wonder hoe dit vir Saggeus gevoel het om deur Jesus raakgesien te word en op die naam geroep te word? Jesus weet wie Saggeus is, wat sy reputasie is en wat hy alles in sy lewe gedoen het. En steeds kies Jesus om by Saggeus se huis tuis te gaan en hom uit te nooi om deel te word van die Koninkryk van God.

Jesus sien jou ook raak. Hy ken jou. En hy kies jou. Ten spyte van wat ander mense oor jou sê, of wat jy van jouself dink. Vir Jesus is jy ’n belangrike deel van sy Koninkryk.

Reflekteer vandag oor die volgende:

  • Hoe reageer ek op Jesus se persoonlike uitnodiging in my lewe?
  • Op watter maniere kan ek Jesus in my daaglikse aktiwiteite en besluite innooi?

Mag ons elkeen vandag Jesus se uitnodiging aanvaar om by ons tuis te gaan. Mag ons lewens ’n plek wees waar Jesus welkom is en tuis kom.

Gebed

Here Jesus, dankie dat U my op my naam roep en my nooi om in ’n persoonlike verhouding met U te staan. Help my om altyd oop en ontvanklik te wees vir U roeping. Mag ek U met vreugde en dankbaarheid verwelkom in elke aspek van my lewe.

Amen