#Imagine Fees 2025

Graad 4-tot-5-kamp | 14 Maart 2025
Lydenstyd

#Imagine 2025

#Imagine is ’n groot, pretgevulde naweek vir tieners om saam met ander in hul geloof te groei deur saam te aanbid, geïnspireer te word, in klein groepe te gesels, praktiese werkswinkels by te woon en saam pret te hê!  Dit is ’n ongelooflike ervaring om te beleef hoe tieners vanuit ’n klomp verskillende plekke bymekaarkom in die Here se Naam!

Hier is ’n paar maniere om #Imagine te ondersteun:

– Gaan saam as tiener. Kry die tiener-inskrywingsvorm hier (inskrywings sluit 17 Maart):

– Gaan saam as ’n leier/vrywilliger(inskrywings sluit 17 Maart). Ons benodig ’n volwasse groepleier vir elke 10 kinders. Kry die leier-inskrywingsvorm

– Borg ’n tiener.  Kontak die jeugkantoor vir meer inligting by sunet@stellenberg.co.za.

– Leen vir ons ’n tent. Die tieners slaap in tente en ons benodig altyd iewers ’n tent of twee.

Hierdie jaar kom die #Imagine Band vanuit Stellenberg Gemeente!

Vir meer inligting, besoek imaginemovement.co.za of kontak die Jeugkantoor by sunet@stellenberg.co.za

Algemene vrae:

Hoe lyk ’n tipiese #Imagine naweek?

Ons vertrek Vrydag rondom middagete en arriveer rondom 14:00 by die feesterrein in Bredasdorp, sodat ons genoeg tyd het om tent op te slaan voor die program 16:00 begin. Sessies vind ’n groot skuur plaas en is gevul met lofprysing, inspirerende sprekers wat gesels oor verhale uit die Bybel, kleingroepgesprekke en gebedstasies. Hierdie sessies is die hart van die ervaring van die naweek en hou diep betekenis in vir die tieners wat dit beleef!

Saterdag bestaan ook uit verskillende sessies, soos op die Vrydag, asook verskillende werkswinkels waarheen tieners kan gaan, waar hulle op praktiese maniere hul geloof leer uitleef. In die verlede was daar sessies oor temas soos: ekologie, sosiale media, gebed, aktiewe leefstyl, besoeke aan ’n ouetehuis in die omgewing, boeliegedrag, ens.

Later die dag is daar ook af tyd, waarin die tieners kan ontspan of kan deelneem aan ’n verskeidenheid van aktiwiteite wat aangebied word!

Sondag maak die laaste sessie om 12:00 klaar en die busse vertrek kort daarna. Dit is ’n naweek vol ervarings van God, nuwe vriende en diep gesprekke wat ’n groot impak op tieners laat!

Wat kos dit om te gaan?

Die registrasie vir die naweek is R750 (vervoer uitgesluit). Dit sluit jou toegang tot die terrein en jou kos vir die naweek in. Vervoer is ’n bykomende R400. Die totale koste van die naweek is dus R1150. Daar is ’n snoepie, so jy is welkom om kontant of ’n kaart saam te bring.

Hoe werk die kampterrein?

Seuns en meisies slaap in aparte kampterreine in tente en volwasse leiers kamp saam met die tieners. Tieners kan tente deel met persone van dieselfde geslag. Daar word gesorg vir genoeg stort- en toiletgeriewe vir elke kampterrein. Daar is nie krag by die staanplekke nie, maar daar word wel ’n selfoon laai stasie in die saal aangebied, waar selfone teen ’n minimale koste gelaai kan word. Daar word geen seuns in die meisies kampterrein toegelaat nie en andersom. Daar is wel gesamentlike areas waar aktiwiteite aangebied word en tieners kan sosialiseer in hul af tyd.

Indien jy wil gaan, maar nie jou eie tent het nie, laat weet gerus. Ons maak ’n plan om tente te leen, of te hoor of daar plek is in tent van iemand wat ook saamgaan.

Hoe werk die vervoer?

Stellenberg Gemeente reël ’n bus en ’n drywer vir die naweek, wat tieners en leiers soontoe en terug vervoer.

Is die terrein beveilig?

Die terrein is beveilig, omhein en daar is sekuriteit op die terrein ten alle tye. Tieners word nie toegelaat om vir enige rede die terrein te verlaat sonder uitdruklike toestemming van hulle ouers/voogde nie.

Ek wil gaan, maar kan nie die volle bedrag betaal nie

Ons wil dit graag moontlik maak vir enige iemand wat graag wil gaan, om te gaan. Neem asb. vrymoedigheid om ons te kontak indien jy nie die volle bedrag kan bybring nie, of ’n alternatiewe reëling wil tref vir die betaling. Daar is goedhartige mense wat bereid is om tieners en volwassenes wat na #imagine wil gaan, te borg.