’n Brief aan Stellenberg

Die liturgiese area geniet aandag
Die verkiesing is verby . . . Wat nou?

Nathan Anthonie, gemeenskapleier van Leeu-Gamka en links op die foto saam met ds. Marius en Pauline Schoomie het die volgende brief aan Stellenberg se lidmate gerig:

Geagte Stellenberg-familie

Stellenberg-gemeente het vanjaar weer hul jaarlikse uitreikprogram na Leeu-Gamka gehad. Elke besoek na Leeu-Gamka vanaf Stellenberg is altyd so lekker en so spesiaal. Hierdie jaar was egter net, hoe kan ek dit nou stel . . . onbeskryflik mooi – spesiaal, as ek ’n woord moet kies. Leeu-Gamka se jeugstruktuur, in samewerking met verskeie ander rolspelers, het ’n program gehad wat op 4 Junie 2024 afgeskop het met ’n movie night en speletjies. Dit was so lekker! Min het ons geweet wat egter op ons wag met Stellenberg se besoek.

Kom ek vertel jule so ’n bietjie . . .

Stellenberg kom in Leeu-Gamka op 15 Junie 2024. Met hul inkom skree iemand “Daar kom Stellenberg!” en die kinders hardloop hostel toe. Dominees Marius bel my en sê dat hul veilig aangekom het, ek sê jammer vir die kinders wat sommer daar opdaag. Maar soos elke ander lid van die Stellenbergspan kom menslikheid en liefde na vore en hy sê, “Ag Nathan, dis oukei, ons is bly om hulle te sien.”

Ek deel so paar dae voor Stellenberg in Leeu-Gamka aankom met dominees dat ons ’n program het en verduidelik hoe alles lyk. Dominees reageer en sê dis wonderlik hulle sal graag help. Ons kom ooreen dat ons hande vat en vanaf ons kant het ons besluit op hoop as tema. Die Vrydag was ons program se opening. Saterdag 15 Junie 2024 was ’n sportdag en later die aand word van ons spanlede na die hostel genooi vir ’n lekker stukkie wors en slaai. Op l6 Junie luister ons die mooiste jeugdiens wat deur Stellenberg aangebied word met pragtige liedjies en ’n boodskap op die ritme en musiek klanke van liefde deur dominees Marius. Op Maandag 17 Junie 2024 begin ons jeugdag met ’n verfprojek waar ons die naam Leeu-Gamka oordoen – spanlede van beide Stellenberg en Leeu-Gamka dra en pak klippe en verf . . .  die mooiste samewerking tussen die twee spanne vind plaas en ’n mens hoor net – “skuif daai letter nog op” of “maak daai een kleiner”. Pauline, dominees se vrou, vermaak ons met lekker liedjies en daar word sommer lekker gedans so tussen alles deur. Later die week word die naam Leeu-Gamka klaar gemaak en die naam in verskillende kleure lyk so mooi en dit is vir ons baie spesiaal – ek vind nie ’n woord om te beskryf wat daardie projek vir ons beteken het nie. Later die dag bied verskeie organisasies asook Stellenberg ’n sessie Career path vir die gemeenskan van Leeu-Gamka aan – dit was so inspirerend en tydens elke toespraak kom die volgende uit: “Vat die kans moenie bang wees nie, dáár wag dalk iets baie mooi aan die anderkant”

Later die aand bied ons vir die uitreikspan ’n gala-aand aan, eintlik ’n dankie sê sommer vir alles oor die jare en vir hierdie jaar ook. Hier skryf ek met trots dat ek ’n baie goeie span in Leeu-Gamka het, ek was aangenaam veras toe ek sien hoe mooi alles opgemaak was en hoe heerlik alles was. Die idee was om Stellenberg spesiaal te laat voel want dis wat elkeen van hul spanlede elke jaar vir Leeu-Gamka kom doen. Ek dink ons het daarin geslaag te danke aan Stellenberg en wonderlike mense rondom my sonder wie ek dit nie kan doen nie.

Stellenberg het hierdie jaar weer Leeu-Gamka se jongmense kans gegee om te sing en te wys wat hulle met musiek kan maak, dit het so mooi geklink. Die uitreikspan bied soggens ’n kinderprogram aan waar Leeu-Gamka se kinders by die hostel kan eet en selfs van die groter mense kry ook bietjie pap. Saans ontvang tieners hul deel. Tussendeur vind verskeie projekte in die gemeenskap plaas.

So wat doen Stellenberg en wat inspireer hulle? Die antwoord dink ek is hulle verryk elke persoon se lewe met wie hul in aanraking kom, en hulle word deur Jesus geïnspireer. Dit laat my dink aan dominees se pragtige boodskap or hoe Jesus Saggeus se lewe verryk en verander het. Dis wat elke lid van die Stellenbergspan hierdie jaar kom doen het. Tydens die tienerprogram was die opdrag gegee dat elke jongmens ’n klippie moes kies om te verduidelik wat hul pla. Een van die seuns sê toe hy kies die klein klippie omdat hy kort is en dit pla hom soms, hy en sy vriende is een ouderdom maar hy is die kortste, waarop Isak hom toe so mooi antwoord “Dit gaan nie oor die size van die man nie, maar oor die size van sy hart.” Dis so mooi gestel en laat die vraag wat leef in ons harte want God kyk daarna.

Stellenberg het saam met hoop ook vir ons elkeen ‘n nuwe hart kom gee. ’n Nuwe perspektief en ’n ander prentjie. Stellenberg speel teen Leeu-Gamka netbal, so goeie en tawwe wedstryd, toe ek weer sien is dominees ook op die veld en ’n paar ander seuns – dis was so baie pret en weer eens so spesiaal. Dit was vir die crowd moeilik om kant te kies want hulle is lief vir Leeu-Gamka en Stellenberg, hierdie feit het na vore gekom elke keer wanneer Leeu-Gamka punte aanteken klap hulle hande en elke keer wanneer Stellenberg punte aanteken klap hul hande.

So wat is Hoop? Daar is mooi antwoorde hierop, ek wil dominees se een gebruik waar dominees gesê het dis die vooruitsig na wat kom, soos wanneer ’n ballon geblaas en geblaas word, ons wag vir daai oomblik wanneer hy bars. So dis om uit te sien na iets, na môre, om te weet dit gaan oukei wees die son sal môre weer skyn. Stellenberg bied op 19 Junie 2024 vir ons span en leiers van die gemeenskap ’n ete aan ִ– die lekkerste roosterbrood met sides,  sap en vriendelike lede van die span wat gereeld vra “Nog bietjie sap, koffie of tee”. Ons het so spesiaal gevoel en weet nie hoe om dankie te sê nie. Verskeie mooi oomblikke gebeur dié aand waar groepe by tafels sit en op ’n boomskets gedagtes oor waardes, talent, kultuur,  ensovoorts skryf. Stefanus van Leeu-Gamka, ’n jong seun wat in ’n rolstoel is, sê hy hoop om eendag te kan loop. Dis iets mooi en laat mens dink dat soms kla ons oor so baie dinge terwyl hy in ’n rolstoel is en net graag wil loop. Stefanus dien God deur sy pragtige stem en vriendelikheid.

Stellenberg het lief geword vir hom ek verstaan hoekom. Stefanus se hoop is ook die vooruitsig om Stellenberg weer volgende jaar te sien. Ek dink hy neem die hoop oral waar hy gaan.

Toe ek en die span hierdie jaar aan ‘n tema dink het ek gesê “hoekom nie Hoop nie?” Hulle het ingestem. Dis ook geïnspireer deur iets wat my Pa gesê het op die aand voor sy sterfte. Op ’n Woensdag so namiddag se kant neem die ambulans my Pa terug na die hospitaal. Ek is daardie oomblik by die kerk en my Pa sê vir my Ma: “Sê vir Nathan ek hoop om hom weer te sien”

My Pa is die volgende dag oorlede en ek het hom toe nie weer gesien nie. Ek gaan my bes probeer en hoop daar is eendag vir my ’n plekkie in die hemel, sodat ek my Pa kan sien en sodat ek kan dankie sê vir alles wat hy my geleer het.

Hierdie jaar het daar ’n ekstra passasier saam met Stellenberg gekom en sy naam is Hoop en hy is van Stellenberg, maar hy bly nou by ons in Leeu-Gamka. Stellenberg vertrek uit Leeu-Gamka op 20 Junie 2024 en daar klim weer ’n passasier in sy naam is ook Hoop en sy van Leeu-Gamka. So Leeu-Gamka se Hoop woon nou in Stellenberg.

So baie baie dankie vir elke oomblik. Vir elke iets om te eet wat Stellenberg aangebied het. Dit was alles omvou met hoop. Ek dink elke persoon wat van vandag af verby die hostel loop gaan kyk en julle verlang terwyl nostalgie hulle ’n drukkie gee en fluister ons hoop om hulle volgende jaar weer te sien. Voorspoed met alles wat elke lid nog moet aanpak, ons liefde en gebede vergesel julle. Ons belowe om die vlam van hoop aan die gang te hou en is opgewonde om te hoor watter tema julle vir ons vir volgende jaar kies.

Dankie dat julle my lewe asook elke ander persoon in Leeu-Gamka se lewens kom aanraak het. Daar wag mooi dinge vir elkeen van julle. Onthou asseblief die volgende woorde: The more you give the more you have to give. 

Liefde is so mooi en dit het deur elkeen van die Stellenbergspan gestraal, veral deur dominees en Pauline, hul liefde vir mekaar en hul liefde vir ander.

Groete en liefde,

Die mense van Leeu-Gamka