In September vier ons die seisoen van skepping

Ontmoet die Sutherlanders
Omgeetrust-veiling | 18 September 2024

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Deur: Ds. Johan Visser

“Om te hoop en aktief te reageer saam met die skepping en Skepper”

Die derde kwartaal se gemeentewaarde nooi ons uit om ’n verskil in die wêreld te maak.  Na die afglope maand van Augustus se nadenke oor God en barmhartigheid beweeg ons nou na Septembermaand waar ons as gemeente die klem spesifiek op die seisoen van skepping plaas. Dit is immers deel van ons gemeentebelydenis:

Ons streef om met die liefde van Christus, inklusief, uit te reik oor grense heen . . .

  • na mekaar in ons geloofsgemeenskap, ongeag ons verskille;
  • na die mense in ons werkplek, buurt en breër gemeenskap;
  • na alle mense in ons land, asook wêreldwyd;
  • na Moeder Aarde en alle vorme van lewe.

Ons almal én die skepping word daartoe geroep om die Skepper te aanbid en saam ’n toekoms van aktiewe hoop en aksie te bewerk. Paulus herinner ons in Romeine 8 daaraan dat beide die skepping en die mensdom van die begin af in Christus gekonseptualiseer is en dus aan mekaar toevertrou is.

Meer as net ’n gemeenskaplike huis, is die skepping ook ’n kosmiese familie wat ons noop om verantwoordelik op te tree. Francis van Assisi het hierdie begrip verwoord toe hy die aarde in sy Lied van die skepping ons suster en moeder genoem het. Hoe kan Moeder Aarde ons versorg as ons nie na haar omsien nie?

Die skepping kreun as gevolg van ons selfsug en onvolhoubare handelinge wat haar benadeel. Saam met ons suster, Moeder Aarde, roep alle soorte wesens, insluitend mense, uit oor  die gevolge van ons vernietigende doen en late, wat die klimaatkrisis, verlies aan biodiversiteit en menslike, sowel as die Skepping se lyding, veroorsaak. Tog is daar hoop en die verwagting van ’n beter toekoms. Om in ’n Bybelse konteks te hoop, beteken nie om stil en rustig te staan nie, maar eerder om te kreun, te huil en aktief na nuwe lewe te streef te midde van die stryd.

Ons nooi jou dus uit om in Septembermaand saam met ons die uitnodiging van Romeine 8 aan te gryp: Om te hoop en aktief te reageer saam met die Skepping en Skepper”.  Skakel gerus by ons spesiale fokusprogram vir September in.

Fokusprogram:

  • Sondag 1 September: (Nasionale Boomplantweek)

Seniorsondag

(Eversdal Juniorkoor tydens die oggenddiens)

 

  • Sondag 8 September: (ZEROCRETE) Uitstalling van meubels en produkte

 

  • Woensdag 11 September: Gespreksaand om 18:30 in die kafeteria saam met Johan Coetzee van Zerocrete (Zero Waste to Landfill)

 

  • Saterdag 14 September: Vroue-uitstappie na Kirstenbosch Botaniese Tuin

 

  • Sondag 15 September: Nagmaaldiens (ZEROCRETE – KRUISE)

 

Loer gerus na die uitsending van die TV-program, Kwêla, om meer te wete te kom oor Johan Coetzee en sy werk by Zerocrete: https://youtu.be/PP2K_sK1sEA?si=l17puMJ3OQRzoKOa

www.zerocrete.co.za