Die Nagmaal

Die kruis . . .
Die raaisel!

Deur: Ds. Johan Visser

Die nagmaal is ’n sakrament wat dien as ’n sigbare teken van God se genade. Dit herinner ons  aan Christus se lyding, sterwe en opstanding.

Volgens prof. Johan Cilliers is die nagmaal nie net ’n eenvoudige voorstelling wat die hede met die verlede en die toekoms bind nie, maar ook ʼn geskenk van “nuwe tyd.” Die teenwoordigheid van Christus in die nagmaal en die liturgie, is daarom nie net gebaseer op ʼn beskrywing van tyd nie. In die liturgie van die nagmaal handel dit eerder oor “oomblikke van ewigheid,” die ervaring van die teenwoordigheid van transendensie. Cilliers beklemtoon egter in verband met die nagmaal dat die hede slegs “oomblikke van ewigheid” kan word, indien dit met die toekoms gevul word.

Met die nagmaal word ons dan juis daaraan herinner dat ons die storie van Christus se dood moet oorvertel, totdat Hy weer sal kom.  Tydens die nagmaal beleef ons ʼn spanning tussen ons geloof in die teenswoordige en die onsienlike God – dit wat reeds is en dit waarop ons wag. En so sug ons saam met die teksgedeelte uit Romeine 8:25 met die wete dat daar hoop is!

In die lig van bogenoemde word dit dus duidelik dat die nagmaal as deel van die groter liturgie van die erediens, ons herinner aan dit wat vir ons aan die kruis gebeur het. In die nagmaal word daar gemeenskap met Christus en met mekaar bewerkstellig. Die uitvloeisel hiervan is dan ook veronderstel om missionêr van aard te wees. Die nagmaal is nie net ’n aansitete nie, maar ook ’n wegneemete.

Die nagmaal versterk nie net ons geloof nie, dit leer en vorm ons ook. Die nagmaal as vreugdefees bring ons nader aan God en  nader aan mekaar. Dit nooi ons uit om ’n verskil in die wêreld te maak en om voortdurend deur die Gees van God te vernuwe. 1 Kor. 10:17: As ons saam die nagmaal gebruik, weet ons dat ons die Here se kinders is. Ons wat die Here se kinders is, is sy gemeente.

Daarom is dit dan ook gepas dat ons komende Sondag ons eerste inleidende tree tot ons Seisoen-van-Skepping-reeks afsluit met nagmaal. ’n Onthou–ete wat ons herinner aan ’n Here wat aktief deelneem aan ons en die skepping se herstel. Daarom vier ons Sondag die nagmaal aan tafel met die breek van brood, korsies en al – Jesus wat Hom in totaliteit vir ons en sy skepping gegee het. Ons nooi jou graag uit om hierdie sigbare teken van genade te kom ontvang.