In die vierde kwartaal vier ons ’n fees van dankbaarheid

Die raaisel!
’n Geleentheid vir plantliefhebbers

Deur: Ds. Marius Breytenbach

2 Korintiërs 9:10

“God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.”

Met die insameling van die oes in die tiendemaand van die jaar het gelowiges in die Bybelse tyd en die vroeë kerk die gebruik gevestig om saam as geloofsgemeenskap hulle dankbaarheid en afhanklikheid van God met ‘n oesfees te bely. Met verloop van tyd het dié gebruik in die kerk voortgeleef deur gelowiges wat ‘n gedeelte van hulle jaarlikse inkomste aan die werksaamhede van die kerk afstaan. Hierdie tradisie bring ons jaarliks in Oktobermaand by ‘n besondere feestyd uit.

Die afgelope meer as 50 jaar het die Here ons in Stellenberg-gemeente met ‘n tuiste geseën waar gelowiges geestelik kon groei en saam met medegelowiges kon meeleef. Teen hierdie agtergrond het ons gemeente swe missie en visie gestalte gekry: Jesus, ons Verlosser, leef, en die roeping om oor grense heen uit te reik. Tydens Oktobermaand vier ons ons dankbaarheid vir God se sorg en fokus ons tydens eredienste op ons gemeentewaarde om voortdurend te vernuwe. Ons nooi almal uit om in hierdie maand op die volgende maniere hulle meelewing te toon:

  • Gesamentlike eredienste: Tydens Oktobermaand vier ons die ryke diversiteit van ons gemeente met twee eredienste op Sondae. ’n Gesamentlike oggenddiens om 09:00 in die kerk en ’n aanddiens om 18:00. Tydens eredienste sal ons nadink oor dit waarmee die Here ons geseën het asook   hoe Hy ons roep om deur dankbaarheid voortdurend te vernuwe.
  • Tiendemaandinsameling: Oorweeg asseblief om buiten jou gewone maandelikse bydrae in Oktober ook ’n finansiële bydrae tot ons tiendemaand-dankofferprojek te maak. Ons jaarlikse tiendemaandinsameling maak 16% van ons jaarlikse begroting uit.  Ons mikpunt vir vanjaar se insameling is R1 660 000. Tiendemaandbydraes kan deur middel van elektroniese oorbetalings, Snapscan en kontantbydraes gegee word.  Gebruik asseblief tiendemaand as verwysing met elektroniese oorbetalings.
  • Kweek vir die Here en deel jou oes. Ons wil oud en jonk aanmoedig om vanaf Oktober groenteplantjies vir Klipheuwel se tuinprojek te kweek.  Ons het ’n lang verbintenis met dié gemeenskap en wil hulle graag ondersteun om ’n eie groentetuin op die been te bring. Koop teen slegs R20 op ’n Sondagoggend ’n groente-kweek-pakkie wat grond, kunsmis en saad insluit.  Plant die saadjies en versorg die plantjie totdat dit ongeveer 10 cm hoog is.  Dit behoort drie tot vyf weke te neem en bring dan jou oes op ’n Sondagoggend terug kerk toe.  Ons sal dit dan aan die Klipheuwel-gemeenskap besorg. Jou klein oes kan vir iemand van groot waarde wees en groot verskil in voedselsekerheid maak.
  • Feesmark. Ondersteun asseblief ons feesmark in Oktober en November. Die konsep van Kersmarkte in gemeentes het meer as 20 jaar gelede met Stellenberg se feesmark begin. Die visie met die feesmark was destyds en is steeds vandag om ‘n platform te bied waar mense ’n ekstra inkomste kan genereer. ’n Gedeelte van die inkomste word dan ook vir gemeenteprojekte en bedienings in die gemeente aangewend.

Raak saam met ons in Oktober in besonder bewus van God se sorg in ons lewens en fokus daarop om met bewuste dankbaarheid te leef.  Uit dankbaarheid deel ons ook ons oes met ander en dra ons ook by tot die werk wat wat in God se koninkryk gedoen word.