Dissipelskapgroep om jou verhouding met God te verdiep

’n Geleentheid vir plantliefhebbers
Omhels verandering

Deur: Ds. Johan Visser

Ons is opgewonde om  lidmate uit te nooi om in 2025 by ’n splinternuwe dissipelskapgroep in te skakel.   Daar is reeds verskeie bestaande kleingroepe in die gemeente soos Bybelstudie- en omgeegroepe asook die VatVyf-groep.  Die nuwe dissipelskapgroep sal hoofsaaklik soos die ander kleingroepe funksioneer, met dié verskil dat die groeplede saam ’n spesifieke dissipelskaphandleiding sal bestudeer met die doel om elke groeplid se verhouding met God te verdiep.  Die handleiding wat weekliks tydens ’n groepsessie behandel sal word, asook die leiding wat groeplede in die vorm van dissipelskap aan mekaar bied, sal groeplede  ondersteun in elkeen se unieke reis om God beter te leer ken.  Bestaande kleingroepe word ook uitgenooi om die dissipelskaphandleiding, Die wese van dissipelskap, deur Deon Loots, te behandel.

Op WIE is die groep gemik?

Die uitnodiging word gerig aan enige kind van God wat belangstel om meer te leer oor wat dit beteken om in ’n egte verhouding van dissipelskap met God te leef. Dit is gemik op gelowiges van alle ouderdomme met ’n begeert om God beter te leer ken.

Wat BEHELS die groep?

Die doel met die dissipelskapgroep is om met behulp van die dissipelskaphandleiding deelnemers te ondersteun en te begelei om ’n meelewende verhouding met God, ons Vader, te ontwikkel.  Die bedoeling is nie om op akademiese wyse met die materiaal om te gaan nie, maar eerder om elke groeplid prakties te begelei om ’n egte en lewende verhouding van navolging en dissipelskap met God die Vader na te streef.  Dit sal vir elke kleingroeplid betekenisvol wees indien hy/sy weekliks aan die hand van die studiemateriaal by God stil sal word en sodoende werklik probeer bepaal waarmee God in sy/haar lewe besig is.

Hoe REGISTREER ek om deel van die groep te raak?

Registreer asseblief voor 11 November 2024 by die kerkkantoor om saam met ons dié pad van ware dissipelskap te loop.  Kontak vir Charlotte per e-pos ([email protected]) of telefonies (021 976 4519).  Indien jou kleingroep van die materiaal gebruik wil maak, stuur asseblief ook vir Charlotte ’n e-pos.

Ons deel graag ter agtergrond kortliks opsommings oor die verskillende modules van die kursus.

Module 1: Die Wese van Dissipelskap

In die module word gelowiges geleer om meer meditatief na die Skrif te luister. Dit is deurgaans ’n belangrike aksent in al die modules. Daarsonder is dit bykans onmoontlik om te leer onderskei waarmee God besig is. Ons gee dan ook aandag aan ’n aantal kernsake wat veral belangrik is wanneer ’n mens aan die begin van die geestelike reis staan. Ons verwys hier na die “begin van die reis”, maar ons ervaring is dikwels dat baie gelowiges al jare lank kinders van God is, maar wat hulle eie geestelike reis betref, steeds net aan die begin van die reis staan,  juis omdat die proses van dissipelskap of geestelike begeleiding tot nou toe in hulle lewens ontbreek het.

Hierdie module handel dan ook oor die verwydering van maskers in jou geestelike lewe, die hantering van seerkry uit jou verlede en die versadiging van ’n mens se dors na geluk en vrede.

 Module 2: Die Identiteit van ʼn Dissipel

In hierdie module praat ons oor die vestiging van ons identiteit as kinders van die Here, asook oor die stryd tussen die vlees en die gees. Ons gee veral ook aandag aan hoe God ons verander om al meer soos Hy te word. Wanneer mense leer om in te sien wat God besig is om in hulle lewens te doen, verg dit gehoorsaamheid om te Volhard en sal dit lei tot gedragsverandering.

Modules 1 en 2 bestaan uit 24 sessies elk wat binne drie jaar afgehandel kan word. M.a.w. 36 sessies vir die jaar.

Baie belangrik: Ons gebruik ook in die eerste vier modules, Jesus se lewe (soos ons dit in die Johannes evangelie leer ken) as die volmaakte voorbeeld van die lewe van ’n dissipel. Ons fokus dus deurgaans op die beginsels wat Jesus ander geleer en self uitgeleef het en kyk hoe dit ons lewens as dissipels raak.

 Module 3: Die Roeping van ʼn Dissipel

Hierdie module fokus op roeping, gehoorsaamheid, gawes en bediening. Ons hanteer dissipelskapbeginsels vanuit die Ou Testament. Dit stel ons bekend aan die verhaal van God se belewenis met die mens, soos in die Ou Testament vertel.  Daar word aangetoon hoe God van die begin af mense geroep het om Hom as dissipels (mense wat Hom volg en van Hom leer) te volg. God se beeld, wie God werklik is, sy karakter soos Hy Homself openbaar het, word ondersoek. Dit het ook ten doel om mense te help om die bedoeling van die Bybel beter te verstaan en dus die Woord met die regte verwagting te lees m.a.w. nie om wetenskaplike en historiese korrektheid in alle opsigte van die Bybel te verwag nie, maar dit te sien as die bekendmaking van God en sy wil vir ons lewens.

 

Module 4: Die Bediening van ʼn Dissipel

In dié module word gelowiges begelei om te begin onderskei en uitvind waartoe God hulle roep in die gang van hulle elkedagste lewe. As mense vir Christus doelgerig volg, sal dit altyd lei tot toerusting en verandering in jou eie lewe, wat dan uitloop op bediening in die koninkryk van God. Ongelukkig verkeer baie gelowiges onder die indruk dat net geestelike leiers geroep word tot die bediening terwyl ons inderdaad almal geroep word om God voltyds te volg, ongeag die beroep waarin ons staan. Ons moet net leer onderskei hoe en waar God ons wil gebruik in die omgewing waar Hy ons geplaas het. Die vier modules behoort elkeen te begelei tot die ontdekking van jou roeping, gawes en spesifieke bediening. Hierdie bediening hoef nie noodwendig binne die gemeente te wees nie, dit kan ook in die persoon se werksituasie wees.

 

Modules 5: Die Hart van ʼn Dissipel

Vir diegene wat nog verder wil gaan en belang stel in ’n meer kontemplatiewe verhouding met God, is daar dan nog twee modules wat mense begelei om vir hulleself ’n geestelike lewensreël daar te stel wat hulle op die verdere reis as dissipel van Christus kan help.

In module 5 kyk word dieper gekyk na dit wat regtig in ons harte leef asook hoe bedrieglik die hart is. Dit is gewoonlik baie ontmaskerend, maar het ten doel om mense te laat besef dat die nuwe lewe in Christus nooit op jou eie en met jou eie vermoëns beleef kan word nie. Ons bereik nooit ’n punt waar ons alles onder beheer het en op ons eie krag kan staatmaak nie. Ons moet die waarheid dat ons sonder Christus niks kan doen nie, in die oë kyk en aanvaar dat die nuwe lewe nét genade is.

 

Module 6: Die Gebed van ʼn Dissipel

Hierdie module is baie meer daarop ingestel om mense bekend te stel aan die baie ou geestelike dissiplines soos die beoefening van Christus se teenwoordigheid (Brother Lawrence) die Jesus-gebed (soos beoefen in die Ortodokse tradisie en die woestynvaders) en die Gebed van die Hart.

Module 7: Die Wil van ʼn Dissipel

Om te kan onderskei wat God se wil is, gaan nie net daaroor dat ons na God se wil vra, of soek, wanneer ons groot besluite moet neem nie, maar dis ’n kuns wat elke dissipel moet aanleer om van dag tot dag toe te pas. In hierdie module word dan spesifiek aandag aan dié aspek gegee. Ons kyk ook redelik breedvoerig na St. Ignatius vir se riglyne vir hierdie onderskeidingsvermoë.