Die feesmark is ’n lekker kuierplek

Huldeblyk | Regter Heath
Eksamentyd

Die feesmark is volstoom aan die gang en die ideale plek om ‘n vriend, vriendin of familielid vir ’n lekker saamkuier te ontmoet.  Onthou rolstoele en stootwaentjies word geakkommodeer. Die feesmarkrestaurant sowel as Maria Eatery voorsien ’n wye verskeidenheid eet- en drinkgoed.  Karen Visagie en Sheree-Lee Gildenhuys, organiseerders, sê afval en boerekos is die voorloperverkopers in die kostent.

Die mark word daagliks deur ongeveer 3 000 mense besoek en 1 300 transaksies word gemiddeld daagliks behartig.  “Die deliprodukte, gebak en lekkernye in die kleinsaal, bly maar die topverkopers,” sê Karen.  “Ons het 400 uitstallers, met ’n uitstaller wat selfs uit Namibië by ons aangesluit het en ’n ander uitstaller uit Loxton in die Karoo wat heerlike tuisgemaakte pasteitjies in die kleinsaal verkoop.

“Ons 80 personeellede werk hard en ons is dankbaar vir elkeen van hulle wat baie tyd op hulle voete deurbring om van die mark ‘n sukses te maak.   Sekuriteit is vir ons belangrik en bied baie uitdagings, maar die nuwe span kwyt hulle goed van hul taak.” 

Karen, Sheree-Lee, Deon Maree en van die ander spanlede kom saans eers teen 22:00 by die huis.  Dit is lang dae en ons is dankbaar teenoor personeel wie se harde werk die sukses van die mark verseker.