Meer oor die gemeente se inkomste en besteding

Mia van der Merwe neem afskeid van die gemeente
Ontmoet ons feesmarkuitstallers

Ons tiendemaandinsameling vorm 15% van ons gemeente se jaarlikse inkomste, maandelikse dankoffers (47%), bankkollektes (8%), feesmark (22%) en verhurings (8%). Ons is dankbaar vir elkeen se bydrae wat ons in staat stel om die gemeente se bediening na binne en buite te bedryf. Die huidige stand van die tiendemaandinsameling word in onderstaande grafiek aangetoon.

Ons deel graag hoe die inkomste tussen die gemeente se kommissies en bediening verdeel word en sal ook in die volgende weke meer inligting rakende die werksaamhede van die kommissies en hulle bedienings verstrek. Die onderstaande grafiek dui grafies aan hoe besteding tussen die kommissies verdeel word:

Meer oor die getuieniskommissie (ds. René Potgieter)

Waar maak Stellenberg-gemeente ‘n verskil? Ons, as kerk van die Here Jesus, is geroepe om met ons tyd, ons finansies en ons gawes ‘n verskil te maak in die wêreld. Graag deel ons met jou as lidmaat waarby ons tans betrokke is en waar ons juis deur gemeentelede se bydraes ‘n impak probeer maak.

  • Ons Noot-vir-nood-fonds ondersteun gereeld mense wat uitdagings het in die hedendaagse druk ekonomiese tye. Ons help mense onder andere met mediese uitgawes, huishuur, studiefondse en ook soms met begrafniskoste.
  • Die kosprojek ondersteun tans maandeliks 17 gesinne met kos. Ons ondersteun ook vyf sopkombuise wat gesamentlik aan meer as 1 000 kinders op ’n weeklikse basis voedsel voorsien.
  • Die omgeekombuis kook gereeld voedsame maaltye vir instansies wat mense versorg en ondersteun.
  • Ons is by verskeie niewinsgewende organisasies betrokke soos MES, wat veral hulp aan hawelose mense bied, om hulle weer op hulle voete te kry.
  • Ons is deel van die opvoeding van kinders deur Shiloh se skole te ondersteun, wat waardevolle basiese onderrig aan voorskoolse kinders gee.
  • Vroue bly op ‘n manier weerloos in die samelewing en deur hulle te versterk en te bemagtig weet ons dat dit ‘n impak maak op gemeenskappe. Verskeie projekte word vir vroue aangebied.
  • Dan reik ons ook verder uit oor ons grense deur die Khoi-San-sending in Namibië te ondersteun.
  • Ons ondersteun verskeie pastore se bedienings in Khayelitsha en Wesbank.
  • Ons ondersteun medewerkers wat sendingwerk in verskillende dele van die land doen.

Baie dankie vir jou bydrae dit maak dit moontlik om oor grense heen ‘n verskil te maak.