KIN Culture is ’n projek wat deur Agnes Barnard in die lewe geroep is nadat sy en haar gesin die visie ontvang het om pleegouers wat vir verwaarloosde of mishandelde kinders ’n tuiste kan bied, te werf en die proses te ondersteun. “Ons misie is om pleeggesinne te ondersteun op die pad wat hulle saam met ’n kind, wat deur erge trauma verniel is, moet stap. Dié kinders het verskillende vorme van professionele hulp nodig om weer holisties te genees. Hulle moet geestelik, akademies en fisies herstel sodat hulle in verantwoordelike volwassenes wat ’n positiewe bydrae tot die samelewing kan lewer, ontwikkel en belangrikste van alles – die kringloop van geweld, mishandeling en verwaarlosing in hulle generasie verbreek,” vertel Agnes.
“Ons ondersteun tans 100 gesinne wat 160 kinders in pleegsorg onderhou. Dit is vir ons belangrik dat gesinne nie te veel kinders in pleegsorg neem nie, aangesien die kinders weens hulle traumatiese agtergrond deurgaans intensiewe aandag op verskillende terreine van hulle ontwikkeling benodig.
Die KIN-winkel het onstaan om fondse vir die ondersteuning van pleeggesinne te genereer. Ons verleen praktiese hulp in die vorm van klere en ander lewensmiddelle, asook hulp met betrekking tot die koste wat aan terapie, opleiding, ens. verbonde is. Ons betaal egter nie pleegouers om kinders te versorg nie; dit moet ’n roeping wees wat die gesin vervul.”
By die feesmark het die KIN-winkel onder andere heerlike swartbessies, ciabata-brode en aarbeie verkoop. Gaan loer gerus na hulle aanlyn winkel op www.kincultureshop.co.za om enige van hulle heerlike vars produkte te bestel en sodoende hulle goeie werk te ondersteun. Hulle het 22 afleweringspunte in die Wes-Kaap.
Indien jy graag meer van die projek te wete wil kom, of die goeie werk wat hulle doen wil ondersteun, kontak gerus vir Agnes Barnard by 083 270 7774.