Maak groot vir grootheid

Grypers, gewers, volgers
Kerssangdienste se kollekte ten bate van die kosprojek

Deur: Ds. Schalk van Wyk

“I believe that what we become depends on what our fathers teach us at odd moments, when they aren’t trying to teach us. We are formed by little scraps of wisdom.”
(Umberto Eco, Foucault’s Pendulum.)

“Want so ‘n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. Hy is ‘n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen. (Jakobus 1:7-8)

Hierdie slag loop ons meditasie ʼn wye draai voor hy by sy bestemming – die grootheid van ons kinders, uitkom. Ons begin by die Amerikaanse presidentsverkiesing, maak dan ʼn draai by ʼn fiktiewe gesprek tussen ʼn Amerikaanse pa en dogter, en eindig met ʼn diep sug. Maar, iewers in al hierdie dinge, skuil daar ʼn lessie. So, kom ons begin by MAGA.

MAGA is mos ʼn akroniem vir Make America Great Again. Dit is die hartewens, die diepe emosie wat talle Amerikaners se verbeelding aangryp. Dié slagspreuk het by Ronald Reagan ontstaan, maar mnr. Trump het dit as kultus gevestig en dit het vir hom die towertapyt na die Withuis geword. Ons kan selfs sê dat mnr. Trump hierdie slagspreuk beliggaam; hy is die gesig van hierdie droom. Maar, telkens wanneer ek hierdie wekroep hoor of sien, skuif twee beelde oormekaar in my gedagtes.

Beeld een, is die van Johannes die Doper. “Hierdie Johannes,” sê Mattheus (3:4), “het ‘n kleed van kameelhaar gedra, met ‘n leergordel om sy heupe, en sy kos was sprinkane en wilde heuning.” Hy het ʼn lewe van eenvoud en selfverloëning gelei. Die engel wat sy geboorte aangekondig het, het gesê dat hy groot sal wees in die oë van die Here (Lukas 1:15). Inderdaad het Jesus dit bevestig: “Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes nie (Lukas 7:28). Vader en Seun kyk na ʼn mens van integriteit en selfverloëning en noem hom “groot!”

Die ander beeld wat bo-oor hierdie een skuif, is die van die hoofprediker wat Amerika weer GROOT wil laat wees, Mnr. Trump. Die eerste keer dat ek noemenswaardig van hom kennis geneem het, was toe ek op TV sien hoe hy tydens sy 2016 veldtog om president te word, tot groot vermaak van sy skare ondersteuners ʼn spastiese joernalis van wie hy nie hou nie, spottend namaak. Dit was afgryslik! Ek het gedink dat dit die absolute teendeel van grootheid is. Dit mag vir ʼn klomp mense wat hulleself Christene noem, maar Jesus nie persoonlik ken nie, na grootheid lyk, maar vir my het dit na iets erger as kleinlikheid gelyk. Daarna het ek ʼn opname gehoor waarin mnr. Trump spog dat hy enige vrou wat hy wil, tussen die bene kan gryp. Hy is ook deur howe skuldig bevind aan verskeie aanklagte van bedrog en selfs van verkragting. Dalk sal die Owerste oor die heersers van die duisternis, die bose geeste in die hemelruim (Efesiërs 6:12) mnr. Trump as ʼn groot man aanprys, maar die Drie-Enige God sal dit nie doen nie. Daarvoor is mnr. Trump se optrede te presies die teenoorgestelde van wat die Bybel grootheid noem.

Dalk maak iemand beswaar: Johannes was nie in die regering nie, sy beroep het ander eise aan hom gestel. Presidente kan nie oor daardie kam geskeer word nie.

Koning Dawid het anders gedink. In die laaste van sy se opgetekende gebede (Psalm 72), mediteer hy oor ʼn koning voor wie ander konings en nasies diep neerbuig. Dit bly steeds tot vandag toe nog, die Heilige Gees se resep vir die grootheid van ʼn regering of die grootheid van leiers. Van so ʼn koning, sê Dawid dan:

“. . . al die nasies sal hom dien;
want hy sal behoeftiges wat om hulp roep, uitred,
ook magteloses en mense
wat nie helpers het nie.
Hy sal deernis hê met hulpeloses
en behoeftiges;
die lewens van behoeftiges sal hy bevry.
Van onderdrukking en geweld
sal hy hulle lewe vrykoop.
Hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
(Psalm 72:12-14)

Die MAGA-kultus glo dat Amerika weer ʼn bewonderingswaardige land sal wees as hulle die migrante wat van onderdrukking en geweld wegvlug, met geweld uit die land kan boender; en as hulle geen deernis met die hulpeloses hoef te hê nie; en as hulle vrolik kan spot met gestremdheid.

Die Here oordeel anders, en omdat al hierdie dinge in die naam van die Christendom gedoen word, vrees ek vir die toekoms van daardie land want. . .

God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai. 8 Hy wat in die vlees saai, sal uit die vlees vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. 9 Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. 10 Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof.
(Galasiërs 6:7-10).

Daar is egter  ʼn ernstiger, nog groter, gevolgryker probleem waaroor ek my kwel. In waarin huise waarin daar Trump-kiesers was, was daar na beraming 74 miljoen kinders. Ek het ʼn gesprek tussen een van hierdie kinders en ʼn pappa, opgemaak om te verduidelik wat dit is wat my so pla. Hier is dit:

“My kind, luister nou mooi. Een van die heel belangrikste eienskappe wat ʼn mens moet hê, is integriteit. Dit beteken dat jy nie ʼn mens moet wees met twee harte nie. Jou ja moet jou ja, en jou nee moet jou nee wees. Dit beteken ook dat jy steeds die regte ding sal doen al sien niemand jou nie. En, my ou doggie, luister nou mooi na Pappa: as jy vir ʼn kêrel nee sê, en hy wil nie nee vir ʼn antwoord vat nie, bly dan sover weg van hom af as jy moontlik kan. So ʼn man is ʼn vark, iemand sonder integriteit. Dit is die soort mens wat baie pyn vir ander veroorsaak. Ek wil hê dat jy gelukkig moet wees en veilig.”
“Ja, Pappa. Ek sal graag ʼn man soos Pappa wil hê. Dit sal cool wees as ek so ʼn man kan kry. Maar, so van die os op die jas, het Pappa regtig gister vir mnr. Trump gestem?”

“Natuurlik,” my kind.” Hy sal die beste president wees en Amerika sal weer soos in die ou dae die respek van die wêreld verdien.”

“Maar, Pappa, die mense sê dat hy skuldig bevind is aan verkragting, dat hy bedrog gepleeg het, dat hy spog daarmee dat hy vroue molesteer. Dan is hy mos nie iemand met integriteit nie?”

“Ek weet my kind, maar ons beursies gaan voller wees en die land sal wonderliker wees. Hy sal ʼn goeie president wees.”

Die beroemde Italiaanse filosoof en skrywer, Umberto Eco, het in een van sy boeke die wysheid kwytgeraak dat die voorbeeld wat ons onbewustelik vir ons kinders stel, bepaal watter soort mens hulle eendag gaan wees. Ons mooi uitgedinkte prekies speel geen rol nie, behalwe as ons voorbeeld ons prekie bevestig.

Is hierdie pa wat integriteit preek,  ʼn voorbeeld van integriteit, of van dubbelhartigheid? Tog dubbelhartigheid! Hy prys integriteit aan as iets wonderliks, maar as dit sy beursie pas, kies hy iemand wat ooglopend die teenoorgestelde is van die lessie wat hy vir sy dogter geleer het. Dit maak mos van hom ʼn skynheilige opvoeder! Só leer miljoene kinders integriteit is onderhandelbaar, en skynheiligheid is aanvaarbaar. Integriteit wat onderhandelbaar is, was egter van meet af aan nie integriteit nie.

Ai tog, Amerika!  – hoe lyk jou toekoms met sulke mense? Ai toggie, tog! Ai!

As ons hier in Suid-Afrika kla oor korrupsie, as ons praat oor ʼn beter land waar daar geregtigheid woon, sal ook ons moet oplet na die onbedoelde lessies wat ons vir ons kinders leer.

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by [email protected].