Deur: Ds. Schalk van Wyk
“Ek is lewe wat wil lewe te midde van lewe wat wil lewe.”
Schweitzer het oneindige respek vir die lewe gehad en dit is gedokumenteer dat hy selfs nie eens die rotte wat in sy hospitaal te Lambéréne (in Gaboen) gepla het, wou laat doodmaak nie.
“Gomverdorie poetoepap,
‘n mier het op my toon kom trap.
Toe slaat ek hom ‘n pappery
oor sy toon-kom-trappery.”
(Philip de Vos, Miere is ook diere, uit die bundel: O togga! ʼn Gogga!)
Jona 4:9-11
9 Toe sê God vir Jona: “Is dit reg dat jy kwaad is oor die kasterolieplant?” Hy het geantwoord: “Ek is tereg tot die dood toe kwaad.”
10 Toe sê die Here: “Jy is besorg oor die kasterolieplant waarmee jy geen moeite gedoen het nie en wat jy nie laat groei het nie, wat oornag opgekom het en oornag tot niet is. 11 Maar Ek, Ek mag nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere?”
(Die Bybel – 2020-vertaling)
[Lees ook: Psalm 24:1-2; Romeine 11:33-36; Job 39-41
Die Liedboek. Lied 8:3-5 (TT Cloete se beryming van Psalm 8)
U hemel, Heer, is vol van wonderwerke.
Ek sien aan ster en maan u vingermerke.
Hoe is die mens dan tog u gunsteling,
net bietjie minder as ‘n hemeling?
U vestig hom as koning hoog verhewe;
U stel hom aan oor alle soorte lewe.
Met eer en aansien het U hom gekroon
en alles onderwerp U aan sy troon.
U laat hom heers oor alles: diere, vee,
voëls in die lug, die visse van die see.
Daarvan getuig die hele aarde saam:
Hoe wonderbaar, o Here, is u Naam.
O Skeppende God, lewende Heer;
o genadevol lewegewende Goedheid –
U sʼn is die aarde, U sʼn is die wêreld
U sʼn is alles wat daarop woon.
Vóór ons, die mense, gevorm,
besiel en oor alles aangestel is,
het u aarde al van oorvloedige,
uitbundig bewegende lewe gewemel;
die ene kleure, klanke en geure.
Vir ons het dit vreugde, maar ook opdrag geword;
U het ons beveel, verantwoordelik gemaak –
beskik as bewaarders en versorgers
wat oor die oorvloed van
u geskenkte lewe moet waak.
Ons moet bely dat ons wens U het
liewer nie kakkerlakke, slakke, slange,
vlieë, vlooie, en boonop muskiete geskep nie!
Ons verstaan van ʼn hond en ʼn kat, ʼn leeu en ʼn luiperd,
maar ʼn spinnekop? Vir wat? Maar . . .
U het geskep, sonder om ons raad te vra.
Wat sou ons in ieder geval kon sê as U
by ons ʼn kreatiewe riglyn wou hê?
Moenie lag nie, Here, maar sou ʼn menskomitee
ooit kon besluit oor die plasing van ʼn duisendpoot se pote?
Al gril ons vir goggas, is ons seker dat U beter weet!
Óns sou nooit ʼn verkleurmannetjie,
visarend, vos of vinkie kon uitdink nie.
Ons sou nooit vlindertjies kon uitverbeel
of selfs nie eens ʼn vark nie.
Maar U, Here, U’s die God
van wonderbare verbeelding!
U is die Skepper, die Eienaar van al wat leef en beef,
en omdat ons U liefhet wil ons die lewe wat vir U kosbaar is
bewonder, bewaar en beskerm – ook bemin!
Daarom, vandag, o Heer,
vandag wil ons nederig voor U kniel;
wil ons dankbaar u lof besing
vol verwondering die misterie van lewe bedink,
maar ook ons skuld bely.
Vergeef tog Heer, vergewe dat ons,
ons wat selfs nie eens ʼn muggie kan maak nie,
so selfvoldaan dood en verwoesting
om ons heen kan saai!
Vergeef dat ons koudhartig, ongestoord
die skouers optrek oor spesies wat kwyn, verdwyn.
Help ons o Heer, om ten spyte van die stad se gedreun
die musiek van die lewe te hoor in die kras van ʼn kraai,
die tarentale se lawaai, die hond se geblaf
en die zoem van ʼn by – selfs al hoop ons
die brommer hou onhoorbaar ver van ons verby.
Leer ons om elke dag met nuwe oë te kyk;
met nuwe ywer oor die lewe te waak; en
steun te gee aan almal wat toegewyd werk
om die natuur te bewaar – die met ʼn hart
vir u skepping soos ook die Wêreldnatuurfonds.
En seën hulle, o Drie-enige God, seën
hulle en almal wat omgee vir die diere,
die plante, die riviere, die berge en die see.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag
en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.