Belydenisaflegging – ’n roetemerker vir jongvolwassenes

In Lydenstyd vind ons hoop in lyding
Gebed: Ons gesels met Jesus oor sy lyding

Deur: ds. Marius Schoombie

’n Mens se hele lewe is ’n reis saam met God. Langs hierdie pad is daar oomblikke waar ons tot stilstand geroep word en op ’n spesiale manier bewus word van ons lewens. In Genesis 28 het Jakob ’n belewenis wat hom laat uitroep: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” In reaksie hierop, merk Jakob hierdie plek en oomblik, deur ’n klip op te rig, olie daaroor uit te giet en die plek Bet-El (huis van God) te noem.

Deur die verloop van ons lewens is daar sulke oomblikke dat ons op ’n spesiale manier bewus word van God se teenwoordigheid en dan wil ons dit graag op ’n spesiale manier merk of aandui. en daarom noem ons dit dan ’n roetemerker. By so ’n roetemerker staan ons dan vir ’n oomblik stil om tot die volle besef te kom waar ons ons bevind, wie saam met ons hierdie reis onderneem, hoe God deurtentyd betrokke was op die pad tot hier en om onsself dus te verbind aan ons reis vorentoe.

Belydenis van geloof is een van hierdie besonderse roetemerkers. Op 16 Maart 2025 bely byna 60 jongmense hul geloof in Jesus Christus en verbind hulself aan hulle geloof in God vir die res van hul lewens. Dit beteken nie dit is die eerste keer dat hulle hul geloof bely nie, of dat hulle eers op hierdie dag besluit om hul lewe aan die Here te wy nie. Inteendeel, dit is omdat hulle reeds glo en omdat hul lewens reeds aan die Here behoort, dat hulle beloof om getrou te wees aan hul liefde vir die Here vir die res van hul lewens. ’n Mens kan dit vergelyk met wanneer ’n paartjie trou, juis omdat hulle reeds lief is vir mekaar en hierdie liefde aan mekaar wil belowe vir die res van hulle lewens saam. Hierdie paartjie sou in hulle verhouding ’n klomp kere vir mekaar sê “ek is lief vir jou”, maar op hul troudag dra dié woorde ’n swaarder gewig en kry dit ’n dieper betekenis, wat dan die rigting van hul lewens vorentoe bepaal.

Die groep jongmense wat Sondagaand belydenis van geloof aflê,  het reeds deur hul lewens hul geloof in God bely en doen dit elke keer as hulle byvoorbeeld bid, sing of nagmaal gebruik, maar op die dag van hul belydenisaflegging, kry hierdie belydenis ’n dieper betekenis wat die rigting van hul lewens vorentoe bepaal.

Dit is vir ons as Stellenberg-gemeente ’n besonderse voorreg om te kon saam stap met hierdie jong mense, tot op dié punt in hul lewens en om ’n getuie te wees van hul belydenis van geloof. Ons bid en vertrou dat die Here elke tree van hul pad vorentoe, saam met hulle stap.

Saam met Efesiërs 3 bid ons “dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.”  Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”

 

Die jongmense wat deelneem aan die roetemerkergeleentheid op 16 Maart is:

Bester Joshua
Boshoff Carla
Boshoff Ewan
Bougard Mia
Bower Lydia Helena
Burger Franco
De Klerk Isabel
De Kock Helen
Du Pisani Isabel
Du Plessis Pierre Hendrik
Du Toit Divan Carel
Faul Mari Faul
Fourie Elizabeth
Gepp Arwen
Herholdt Michiel Johannes
Heüser Johan
Heyneman Danika
Jansen van Vuuren Amy
Koorts Jana
Kotze Giselle
La Grange Xander
Le Roux Adriaan
Le Roux Ben Pretorius
Liedeman Jason Paul
Lilly Mikayla Harston
Lloyd Stephanie
Londt Chané
Louw Cara
Möller Frederik Charl
Mostert Nienke Leané
Mouton Annabelle Janke
Muller Thomas Richard
Niehaus Juan Josef
Niehaus Ruben Alexander
Nolte Imke
Pieterse Kari Engela
Potgeieter Joshua Jacob Salmon
Putter Lola Isabelle
Schoeman Rigardt Pierre
Smit Lukas Leopold
Smit Ivan
Steyn Isobel Ann
Teubes Míscha
Van der Merwe Ilke
Van der Merwe Francois Dirk
Van der Merwe Ernst Jan
Van der Poel Lene La Marque
Van Der Westhuizen Franco
Van Rensburg Lee-Ann
Van Staden Chanel Maria
Van Wyk Arno
Veldsman Stefan
Vermeulen Anja Monique
Vermeulen Chloë Catherine
Viljoen Hermanus Mortimer
Visagie Marius Burger
Voges Jhoané Edith
Wessels Lenae