Deur: Ds. Schalk van Wyk
Ons gesels met Jesus oor sy lyding.
In hierdie lydenstyd gesels ons telkens met Jesus oor een van sy kruiswoorde. Vandeesweek, Die tweede Kuiswoord:
“Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
I wonder if I take you there
Would you believe in fairy tales, oh
A place where no one feels the pain
Living without suffering
The roads are paved by loving hands
Energy from turning fans, oh
So won’t you open up your eyes
So you can see this paradise, oh
I won’t die to get to mine
I want this thing alive
I’ll take my paradise on earth, yea hey
I’ll make my paradise on earth, oh oh
I’ll make my paradise on earth, yea hey
I’ll take my paradise on earth
I’ll make my paradise on earth
(ʼn Fragment uit die liedjie “Paradise (On Earth)” uit die pen van ʼn gewilde(rige) pop/R&B sanger, Chris Cab.
Die liriek verwoord sy verlange om te ontsnap uit die lyding, die pyn van hierdie lewe na ʼn volmaakte omgewing waar hy saam met sy geliefde in ʼn feeverhaal-paradys kan leef. Maar hy wil sy paradys hier hê, en nóú – nie eers na sy dood nie.
Sy verlange is tevergeefs, want in ʼn paradys sonder Jesus is daar altyd ʼn slang en die boom van die lewe se vrug hang te hoog)
Lied 384
Jesus, o dink aan my wanneer U,
Heer, in u ryk kom.
Jesus, o dink aan my wanneer U,
Heer, in u ryk kom.
32 Saam met Jesus is ook twee ander misdadigers weggelei om tereggestel te word. 33 Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. 34 Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. 35 Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” 36 Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle nader staan en vir Hom suur wyn aanbied, 37 met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” 38 Bokant Hom was daar ook ‘n opskrif:
“Hy is die koning van die Jode.”
39 Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” 40 Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! 41 In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42 Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” 43 Jesus het hom geantwoord: “• Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Genesis 3:22-24: In Jesus se tyd het die meeste mense nie meer Hebreeus geken nie en die Griekse vertaling van die Ou Testament (hierdie vertaling is die LXX genoem) gelees. Die LXX noem die tuin van Eden, die Paradys. Adam en Eva, so vertel Genesis 3, is uitgedryf uit die paradys (die tuin van Eden) en gerubs, en ‘n flikkerende swaard wat heen en weer beweeg, het die pad na die boom van die lewe bewaak.
Psalm 1. Die mense wat met Jesus spot terwyl Hy aan die kruis hang, herinner ons aan die byeenkoms van die spotters in Psalm 1. En die boom wat geplant is by watervore van vers 3 herinner aan die boom van die lewe wat tussen die riviere van Genesis 2 en 3 in die paradys geplant is. Werklike lewe is nie in die kring van die spotters te vinde nie, maar in woorde van God wat oordink word, dag en nag.
Openbaring 3: 7 “Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe wat in God se paradys staan. ”
Here Jesus, ons het U lief!
Ons wat so kleinserig ineenkrimp
as iemand vir ons ʼn skewe woord sê,
kan nie glo dat U bereid was om, terwille
van ons, die spot van mense te verduur nie!
Dankie, Here, baie, baie dankie!
Dankie Heer, dat ons in die Lukas-evangelie
kan sien hoe U, te midde van al die stemme
om U, die eenvoudige woorde van ʼn mens in nood
kon hoor; hoe U kon sien dat iemand u nodig het
en hom uit die hel van hierdie wêreld kon red!
Dankie dat U die gerubs wat die paradys bewaak,
huis toe gestuur het; dat die spies wat in u sy
gesteek is, die flikkerende swaard wat die
pad na die boom van die lewe bewaak, weggeneem het;
dat U ʼn misdadiger wat mooi gevra het, die paradys ingenooi
en die vrug van die lewensboom laat eet het.
O Tweede Adam, Ware Mens,
U kom vervul ons hart se diepste wens!
U ontsluit vir ons die ewige paradys;
les ons grootste dors en wys
vir ons die pad wat na die lewe lei.
Here Jesus; Koning Jesus;Verlosser Jesus!
ons het U lief, so baie lief
Want aan U behoort die koninkryk,
en die krag en die heerlikheid,
tot in ewgheid!
En U dink aan ons terwyl U in u ryk is!
U dink nou aan ons – altyd aan ons, en die poort van die paradys gaan voor ons oop.
Dankie, Here, baie, baie dankie!
Amen
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.