’n Gebed | Dit is volbring!

Onverwagste genade op die lewenspad
Herontdek liefde in onseker tye

Deur: Ds. Schalk van Wyk

In 14 April se The New York Times, het twee filosofie-professore, Katarzyna de Lazari-Radek and Peter Singer, ‘n boeiende artikel geskryf. Daarin doen hulle, al nadenkende, verslag oor ‘n gesprek wat hulle op 27 Maart met professor Daniel Kahneman gehad het. As u (soos ek) boekbehep is, sou u sy “Thinking Fast and Slow” al op ʼn boekhandel se rak gesien het. Dit is ʼn boeiende boek wat verduidelik hoe mense besluite neem, en hoekom ons soms sulke dom dinge aanvang. Hy self was ʼn baie slim man met ʼn nobelprys op sy kaggelrak.

Maar dit is nie wat my die keer geïnteresseer het nie. Die gesprek met Kahneman het gegaan oor sy besluit om in sy 90ste jaar Switserland toe te gaan waar medici hom sou help om selfmoord te pleeg. Hy het nie kans gesien vir die verleenthede wat die ouderdom meebring nie, maar bowenal het hy gevoel dat sy lewe voltooi is. Dit is dus in die haak, so het hy verduidelik, om self die lewe te verlaat. So het hy toe inderdaad op 27 Maart vanjaar, geassisteerde selfmoord gepleeg.

Ek kon nie help om, terwyl ek al kopkrappende die twee filosowe se diepsinnige nadenke oor Kahneman se besluit en veral sy oortuiging dat sy lewe voltooi is, gelees het, te dink aan die tweedelaaste kruiswoord van Christus nie. Dit is ʼn kort, maar boekdele-sprekende kruiswoord. Ons kry dit in Johannes 19:30:

Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy:
“Dit is volbring!”
En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee.

“Dit is volbring.” In die Grieks is hierdie kruiswoord nie drie woorde soos in Afrikaans nie, maar een, net één, letterlik ʼn enkele woord – maar wat ʼn aangrypende woord uit die mond van die Woord (Johannes 1:1).

As ‘n mens niks van Jesus se koms na die aarde verstaan het nie sou jy dalk kon dink dat hy op dieselfde manier as Kanneman gereken het dat sy lewe voltooi is, dat daar niks meer oorbly om te doen nie. As jy régtig niks van Jesus verstaan nie, sal jy dalk die fout kon maak om so te dink. Maar: jy sal verkeerd wees! Jesus het immers geweet dat daar nog baie is wat Hy vorentoe moet doen. Sy groot taak is mos nou daar aan die regterhand van die Vader waar Hy oor sy koninkryk heers. Nee, sy werk was nie afgehandel nie, hierdie was maar een spesifieke taak wat Hy voltooi het. Maar ons moet ook nie die fout maak om te dink dat dit ʼn onbenullige taak was nie. Allesbehalwe! Dit was die wonderlikste iets wat ooit afgehandel kon word!

Dit is Johannes wat hierdie kruiswoord vir ons opgeteken het. En hy het een ding oor Jesus goed verstaan. Hy het verstaan dat Jesus gekom het om die hele skepping, – hemel en aarde – nuut te maak. Daarom begin Johannes sy evangelie deur vir ons te vertel hoe die Woord (dit is Christus) by die eerste skepping ʼn baie belangrike rol gespeel het. Lees maar Johannes 1:3-4:

Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het selfs
nie een ding wat bestaan,
ontstaan nie.
In Hom was lewe,
en dié lewe was die lig vir die mense.

As hy dus vir ons vertel dat Jesus gesê het, “dit is volbring” het hy iets groots in gedagte. Hy wil ons herinner aan God wat in Genesis 2 op die sesde dag sy werk voltooi (=volbring) het en op die sewende dag gaan rus het. Die woordjie wat in die Griekse vertaling van Genesis 2 gebruik word om die voltooidheid van God se werk te beskryf, is presies dieselfde Griekse woord wat Jesus aan die kruis gebruik.

So is die hemel en die aarde en alles wat daarby hoort, voltooi.  (volbring)
God was op die sewende dag
klaar met sy werk
wat Hy gedoen het;
en Hy het op die sewende dag
gerus van al sy werk
wat Hy gedoen het.
(Genesis 2:1-2)

Johannes het verstaan dat Jesus alles kom nuut maak het. Die Christus het nie net ons sondeskuld kom afbetaal nie maar Hy het daar aan die kruis, toe Hy die dood aan Hom voel vat, geweet dat die nuwe hemel en die nuwe aarde sopas voltooi is! En soos God na die eerste skepping op die sewende dag gerus het, só het Jesus na die herskepping op die sewende dag in die graf gerus.

Hierdie is nie maar net die afhandeling van ‘n lewenstaak nie. Hierdie is die wonderbare voltooiing van die drie-enige God se plan met die ganse skepping. Net daar begin ʼn nuwe tyd, en ʼn uitgeruste, opgewekte Here Jesus kan op die Sondag begin met ʼn nuwe taak

Toe Christus op die Sondagoggend uit die graf kom, was die wêreld anders as wat dit op die vorige Vrydagoggend was. Iets radikaals het gebeur – nie net met God se mense nie, maar met die hele kosmos. God se nuwe dag het gebreek oor god se nuwe toekoms. Ons is meestal nou nog te blind om te sien wat gebeur het. Maar dit beteken nie dat dit nie gebeur het nie.

Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het.
2 Kor 5:16–18

Die nuwe skepping is reeds teenwoordig, midde-in die oue. En ons het ʼn roeping waarmee ons nie klaarkom nie. Ons het die bediening van die versoening!

Anders as Kahneman weet ek dat my lewe nie op 90 voltooi word nie, mý lewe is reeds op Golgota voltooi. En ek het die heerlike opwindende taak om so lank ek kan praat vir almal te vertel van Koning Jesus se nuwe wêreld.

Gebed:

Heilige, genadige, Christus! Ons kan nie eers voorgee dat ons regtig verstaan wat aan die kruis gebeur het nie. Dié deel wat ons wel verstaan vul ons hart egter met soveel vreugde dat ons wil roep en sing: halleluja!

Dankie dat daar by ons geen onsekerheid kan wees oor die werklikheid van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarvan Openbaring praat nie. Dankie dat dit nie nog geskep moet word nie, maar reeds geskep is – al sien of beleef ons dit nog nie.

O Here help ons om in hierdie deurmekare, neerdrukkende wêreld waarin ons, wat reeds deel van die nuwe skepping is, moet leef, – om in hierdie wêreld getuies te wees van u  alternatiewe werklikheid.

Ons gaan nooit ten volle verstaan wat u gely het aan die kruis nie. U het immers ‘n ganse wêreld op u skouers gedra en die straf van God daarvoor verduur. Maar ons kry ook nog seer selfs terwyl die nuwe dag breek. Maar, dank Vader, ons weet dat dit reeds aan die verbygaan is. Die dag waarop al ons trane afgedroog sal word, is reeds gemaak. Halleluja! Amen.

 

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.