Gebed | ’n Woord tot die nuwe Adam

Herontdek liefde in onseker tye

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Woorde uit die wêreld om ons:

  • “Indië en Pakistan het Woensdag artillerievuur uitgeruil langs hul betwiste grens in Kasjmir in ‘n grootskaalse eskalasie van geweld tussen dié buurlande wat albei oor kernwapens beskik.” (Netwerk 24 – Woensdag, 7 Mei 2025.)

ʼn Woord van God tot ons:

  • Toe sê die Here God: ‘Kyk, die mens het soos een van Ons geword deur goed en kwaad te ken. Nou moet hy net nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en vir altyd bly lewe nie.’ Die Here God het hom toe weggestuur uit die tuin van Eden om die grond waaruit hy geneem is, te gaan bewerk. Hy het die mens uitgedryf en aan die oostekant van die tuin van Eden gerubs laat woon, met ‘n flikkerende swaard wat heen en weer beweeg, om die pad na die boom van die lewe te bewaak” (Genesis 3:22-24).
  • Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk en twee engele met wit klere aan daar sien sit, waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop en een waar sy voete was. Hulle sê toe vir haar: ‘Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.’ Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: ‘Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?’ Sy het gedink Hy is die tuinier . . .” (Johannes 20:11-15).
  • “Julle is immers almal kinders van die lig en kinders van die dag. Ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar waaksaam en nugter wees!” (1 Thessalonisense 5:5-6)

Nagedink oor hierdie woorde

Die ou Adam, die paradys tuinier wat moes sorg vir die tuin van Eden, het misluk. Christus, die nuwe Adam, tuinier van God se nuwe skepping, het geslaag. Die poort na die ou tuin was gesluit. In die tuin waar Jesus begrawe is, was die poort uit sy graf oopgesluit, die klip was weggerol. Hy kon uit die graf die tuin binnegaan.

Maria maak ʼn fout, en tog nie ʼn fout nie, as sy dink Hy is die tuinier. O, Heilige Ironie! – Hy is inderdaad die tuinier van die nuwe Tuin van Eden. Hy boender die gerubs weg uit poort – die spies wat soos ʼn flikkerende swaard in sy sy gesteek het, is nou huis toe geneem deur Pilatus se gerubs, sy soldate. Die nuwe Adam, die suksesvolle Adam, eet nie verbode vrugte nie maar pluk die vrugte van die boom van die lewe en deel dit vrylik uit vir elkeen wat dit wil hê. In plaas van die gerubs (God se hemelse polisiemanne) sien Maria nou twee engele (God se boodskappers van goeie nuus, dienende geeste – Hebreërs 1:14).

Dit was dubbel nag toe Maria by die graf aankom. Letterlike nag, omdat die aarbol nog nie ver genoeg gedraai het dat die son in die tuin waar die graf is, kan skyn nie; en figuurlike nag in haar hart, omdat iemand vir wie sy lief was, gesterf het. En toe gaan hierdie nag verby. Nie net die aarde draai sodat die sonskyn die tuin verlig nie, maar die ganse geskiedenis draai – en, wát ʼn draai!

Só word dit toe dubbel dag. Die son het begin skyn oor die ou aarde, maar dit was ook die dagbreek oor God se nuwe wêreld. God se nuwe dag breek oor die wêreld – en in Maria se hart – met die rooi môregloed waarin die wêreld gedoop word voor die son sigbaar sy voorkop oor die horison lig. Die rooi gloed wat jubel dat die dag onkeerbaar, onafwendbaar, ontwyfelbaar hiér is, al lê hy nog voor. Die koninkryk het gekom, “láát u koninkryk kom!”

Dus is ons kinders van die lig; kinders van die dag. ʼn Groot deel van die wêreld om ons kan nog nie die môregloed sien nie – hulle oë is te vol trane, hulle harte te vol duisternis. Hulle kan deur die gedruis van die wêreld in hulle kop en hart nie die engele om hulle se vraag hoor nie: “Waarom huil jy?”

Die dagbreek se rooi is die vervullende belofte van wat nog kom – die son van die koninkryk se verskyning is ʼn millimeter van die aarde se draai duskant die toekoms. Die koninkryk is hier, om die draai, die wêreld is reeds in sy rooi gloed gebaai.

Woorde van die kerk tot ons:

Lied 504:2 en 5

2

O Jesus, u verlossingsdade
bevry ons van die sondestraf!
U’t God behaag en in genade
wend Hy sy oordeel van ons af.
Nooit kan ons deur ons eie strewe
self voor die heil’ge reg bly staan;
U kruis, die boom van nuwe lewe,
het Edens poort weer oop laat gaan
.

5

Ons wil U wy ons hele lewe,
U volg waar U ons ook mag lei –
aan U, o Here, hoog, verhewe,
en aan u diens steeds toegewy.
Spreek deur ons woorde, rig ons dade;
Voleinder, gee dat deur u krag
die heerlik’ werk van Gods genade
in ons volbring word dag na dag!

ʼn Woord tot die Nuwe Adam; ʼn gebed tot Christus

O Adam van die nuwe tuin; Here van die nuwe tyd; Koning van die nuwe Ryk; Lig wat die duisternis verdryf; Verlosser van ons siel en lyf; Boom van die lewe en uitdeler van die vrug – Ons prys u Naam.

Ons wat die lewe ontvang het; ons wat die belofte verstaan; ons wat die lig van die nuwe toekoms kan sien; ons wat kan glo – ons wil U van hart dien.

Ons wil so graag u lig weerkaats, lampe wees wat die donker verdryf. Maak ons sakdoeke vir ander se trane, brille vir dowwe oë. Maar ons word so lamgelê deur ons onvermoë om die “hoe” van ons roeping te weet. Wat ons wel seker weet, is dat U wat lewe ons sal help – help dan Heer dat ons kommerloos in u lig sal lewe sodat die wêreld om ons gekleur sal raak deur die môregloed van u nuwe dag. Só gekleur sal raak dat ander dit teen wil en dank sal raaksien. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

 

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.