Deur: Ds. Schalk van Wyk
“En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”
Matteüs 28:20b.”
In April 1961 het Yuri Gagarin die mensdom se eerste ruimtevaarder geword. Die kommunistiese wêreld was in die wolke oor hierdie sukses: Ons, die Sowjetunie, het die Weste verbygesteek! Dit was inderdaad vir hulle iets om oor te jubel, en terselfdertyd ook ʼn ekstra bom om uit die lug op die geloof in Christus te laat val. Gagarin het immers ná sy ruimtevaart met groot stelligheid verkondig dat hy daarbo nêrens enige teken van God bespeur het nie. Die nuusagentskap, Tass, het die evangelie van hierdie bevrydende “bewys” dat daar geen God is nie, vrolik verkondig.
Ook in kommunistiese Oos-Duitsland, agter die Berlynse Muur, het mense die Tass-boodksap in hulle eie taal, Duits, gehoor. Dáár was ʼn jeugkoerant, die Junge Welt, (Jong Wêreld) wat moes meewerk daaraan om mense “nuut” te maak (die duiwel is tog so verbeeldingloos, hy moet altyd begrippe uit die Bybel steel en dan nuwe inhoud daaraan gee). Die Junge Welt was verpligte leeswerk vir alle jongmense van graad 6 af tot op universiteitsvlak. Die koerant het toe ʼn satiriese rympie gepubliseer om met Christus se hemelvaart te spot:
Lied 159:1a
God is hier teenwoordig;
laat ons biddend nader,
hier waar ons voor Hom vergader.
God is hier teenwoordig.
Heilig is die Here;
buig in stilte, Hom ter ere!
Wie Hom roem, wie Hom noem
Heer en Hemelvader,
kom nou almal nader!
Die nuusagentskap Tass en die Junge Welt, met sy satiriese rympie, het die kat aan die stert beetgehad, maar ons moet hulle nie die misverstand te erg kwalik neem nie – immers, ons, ons wat in Christus glo, ons praat ook meesal asof ons dink dat God iewers in ʼn hemel bo ons koppe, woon. Kom ons bekyk en bedink hierdie idee eers ʼn bietjie.
Toe die Bybel geskryf is, het God dikwels eenvoudig by die insig van daardie tyd se mense aangesluit. Daarom vind ons drie hemele in die Bybel. Die eerste hemel is die atmosferiese hemel. Dit is die plek waar die wolke ronddryf en waarvandaan die reën kom. Hoër op is die tweede hemel, die sterrehemel – die woonplek van die son, maan en sterre. Die derde hemel is die “plek” waar God se troon staan; waar Jesus nou is – Paulus was ook daar, en noem dit die paradys (2 Kor. 12:4).
Daar is egter baie, dwingende Bybelse getuienis dat hierdie derde hemel, die-plek-waar-God-bestaan-hemel, nie daar vér is nie, maar hier, by, om, in, rondom ons! Dit is nader aan ons as wat ons onderklere is! Dit is ʼn ongeskape, onmeetbare, ondinkbare, alomteenwoordige “heelal”. Ons nie kan dit (nog nie!) sien nie, maar dit is net so werklik soos wat die kruis op Golgota was. Want, let mooi op, Jesus het gesê: “. . . en kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” Hy het nie opgehou om by ons te wees toe Hy hemel toe is nie. Sy hemelvaart het hierdie belofte mos nie verander nie. Sy hemelvaart het die vervulling juis móóntlik gemaak. Omdat die hemel oral en altyd naby is, hoef ons nie ʼn vliegkaartjie Israel toe te koop om by Hom te wees nie. Hy is nie iewers op ʼn plek nie, maar in die hemel en daarom op elke moontlike plek, terselfdertyd. In die hemel is Hy so naby aan elkeen van ons dat Hy aan ons raak – om die waarheid te sê, deur die Heilige Gees is Hy só naby dat Hy binne-in ons aan ons raak!
Hierdie hemel is die Drie-Enige God se eiesoortige ruimte, ʼn bestaan wat bo ons verstand, maar nie bokant ons koppe is nie. Daarom kan Paulus aan die Kolossense skryf dat Christus by sy wederkoms eenvoudig sal verskyn. Hy wat tans onsigbaar by ons is, sal dan eensklaps sigbaar wees. Aan die Thessalonisense wat vervolg word, sê Paulus dat Christus in ʼn vuurvlam saam met die engele sal verskyn. Die “membraan” oor ons oë wat nou nog God se bestaan teen ons kyk en raaksien bedek, gaan met die wederkoms eensklaps verdwyn. Dan gaan ons ook, soos die dienaar van Elisa, die strydwaens van vuur wat reeds daar is, rondom ons kan sien!
Dankie, Hemelse Here Jesus, dat U
ook die aardse Here is.
Dankie dat ons nooit hoef te roep om u
aandag iewers daarbo te trek nie,
omdat U slegs ʼn sug of fluistering,
ja, slegs ʼn dinkgebed ver is.
Dankie dat U ons, in Dawid se woorde,
van agter en voor omsluit en
u handpalms op ons plaas.
Vergewe dat ons deur ongeloof so blind
word dat ons die vurige strydwaens
miskyk en dan in sak en as
van angs wil beswyk!
Help ons om nou reeds met die geestesoog
te sien wat eenmaal by u verskyning ook
vir ons lyf se oë tot verwondering sal dien.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag
en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.